Dr. Pieter Mulder, die adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye, moet ingryp in die situasie wat rondom die beweerde afgedankte hoof by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) bestaan, sê Solidariteit.
Mulder het ook aan Landbou.com gesê dat hy nog geen so ‘n versoek van die vakbond of die OBP mondelings of skriftelik ontvang het nie. “Ek het wel daarvan kennis geneem deurdat die mediaverklaring aan my gestuur is”, sê Mulder.
Meer as R2 miljoen gemors
Intussen sê die vakbond 14 maande het reeds verloop vandat dr. Andile Dyasi, die uitvoerende hoof van die OBP, deur die raad geskors en afgedank is. Me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, weier egter glo steeds om haar rubberstempel op die skorsing en afdanking te plaas.
Die sloering het volgens die vakbond reeds tot die vermorsing van sowat R2 miljoen gelei. Me. Ilze Niewoudt, woordvoerder vir die vakbond, sê aangesien die afdanking nog nie bekragtig is nie, word salarisbetaling aan Dyasi steeds voortgesit.
Dié bedrag beloop sowat R1 miljoen. Intussen is Dyasi steeds in ‘n hofstryd met die OBP-raad gewikkel, want hy reken hulle het nie die reg om hom af te dank nie. Dié saak het die OBP tot op hede sowat R1 miljoen in regskostes gekos.
Die arbeidshof het aan die einde van verlede jaar bevind dat die raad binne sy regte opgetree het, maar Dyasi het aangedui dat hy die saak na die arbeidsappèlhof gaan neem.
Direkteure?
Die vakbond sê Joemat-Pettersson sloer nie net met die bekragtiging van Dyasi se afdanking nie, maar ook met die aanstelling van nuwe direkteure. “Aangesien die staat ? 100%-aandeelhouer in OBP is, moet die staat die direkteure aanwys. Hiermee word egter gesloer. Die waarnemende voorsitter se termyn verstryk vandeesmaand (Februarie 2011).
"Daarbenewens het die meerderheid van die ander direkteure se termyne reeds verstryk. Dit wil voorkom asof Joemat-Pettersson juis wil toesien dat alle raadslede wat betrokke was by die ondersoek teen Dyasi uitgeskuif word, sodat ? nuwe raad aangestel kan word,” meen Nieuwoudt.
“Dit is duidelik dat Joemat-Pettersson nie die belange van OBP op die hart dra nie en daarom is die enigste uitweg nou dat Mulder moet ingryp en druk op die minister plaas om haar pligte na te kom,” aldus Nieuwoudt.
21 Februarie 2011