
Geen ondersoek is nodig na die doeltreffendheid van entstowwe wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig word nie, sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Dít was haar antwoord op vrae wat die Demokratiese Alliansie (DA) in die Parlement aan haar gestel het.
Volgens die minister vervaardig die OBP sy entstowwe in ooreenstemming met internasionale standaarde. Die doeltreffendheid en veiligheid van entstowwe word ingevolge registrasievoorwaardes gewaarborg.
“Die stelsel by Onderstepoort Biologiese Produkte is deur die internasionale standaardorganisasie gesertifiseer en die laaste sertifisering was in 2008. Tot dusver was daar nog geen verslae van ondoeltreffendheid of kommer oor die veiligheid van dié entstowwe nie,” lui die minister se antwoord.
Stomgeslaan
Me. Annette Steyn, die DA se verteenwoordiger vir die landbou, sê die minister se antwoord het haar stomgeslaan. Luidens ’n verklaring het sy aan Joemat-Pettersson gevra of enige ondersoeke die afgelope vyf jaar deur die departement onderneem is om die doeltreffendheid van entstowwe van die OBP te bepaal.
Steyn sê wat die minister se antwoord so verbasend maak, is die feit dat prof. Leon Prozesky, hoof van die department patologie aan die Universiteit van Pretoria, verlede jaar aangestel is om ’n onafhanklike ondersoek na die doeltreffendheid van entstowwe, soos dié vir slenkdalkoors, te lei.
Prozesky het boere van Aberdeen verlede jaar besoek om die uitslag van die ondersoek te bespreek.
Volgens dié boere is bevind dat die kwessie van ondoeltreffende behandeling van slenkdalkoors nie regverdiglik voor boere se deur gelê kan word nie. “Om boere te blameer, is een van die minister se gunsteling-aktiwiteite,” sê Steyn.
Steyn sê die resultate van die ondersoek wys glo dat die entstof in talle gevalle nié die nodige beskerming gebied het nie.
Verslag
Dié verslag is nie aan die publiek bekend gemaak nie. Steyn sê hoe langer die minister dié verslag stil hou, hoe langer sal vrae en kommer voorkom – wat kan aanleiding gee tot die vermoede dat die minister iets wil wegsteek.
’n Amptelike klag teen die OBP is volgens Steyn in April vanjaar in die kantoor van die Registrateur aangeteken. Landbou.com wag tans op terugvoer van die departement oor dié verklaring.
29 Mei 2012