Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) wou glo nie die Demokratiese Alliansie (DA) vir ’n vooraf gereëlde besoek ontvang nie, sê me. Annette Steyn, partywoordvoerder.
Luidens ’n mediaverklaring is Steyn verlede week toegang geweier ten spyte daarvan dat sy reëlings vir ’n besoek getref het.
Steyn se beoogde besoek volg nadat die party verskeie verklarings uitgereik het oor die doeltreffendheid van entstowwe wat deur die OBP geproduseer word.
Steyn het ook versoeke aan die Nasionale Verbruikerskommissie gerig om die werking van entstowwe vir Slenkdalkoors en Afrika-perdesiekte te ondersoek. Dié entstowwe was glo nie doeltreffende nie en het boere duisende rande se skade weens vee- en perdeverliese gekos.
Iets om weg te steek
Steyn wonder of die OBP iets het om weg te steek, aangesien sy rondgestuur word met verdere versoeke vir ’n besoek aan die instelling. Sy het haar ná haar besoek geweier is, op me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, beroep om hulp.
Mnr. Langa Zita, direkteur-generaal van die departement, het haar later gebel en in kennis gestel dat hy haar sal bystaan om reëlings vir ’n besoek te tref. By latere navraag aan Zita se kantoor is Steyn in kennis gestel dat sy regstreeks met die OBP moet kontak maak.
Die OBP het haar toe ingelig dat sy ’n besoek deur middel van mnr. Mlungisi Johnson, voorsitter van die portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, moet reël. ’n Sekere protokol moet glo vir sulke besoeke gevolg word.
Steyn sê intussen het sy nog geen terugvoer van die minister ontvang oor haar klagtes en voorstelle wat sy die afgelope paar weke aan haar gestuur het nie.
Een van die voorstelle is dat ’n onafhanklike liggaam, soos die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde, die OBP se produkte se doeltreffendheid moet toets pleks daarvan dat die OBP die taak self onderneem – soos wat tans die geval is.
Landbou.com wag tans op terugvoering van die OBP oor die situasie.
23 April 2012