Met die samewerking met die regering en ten spyte van massiewe struikelblokke, insluitend dat die oorlog onbepaald kan voortduur, het dié land se landboubedryf reeds ’n ambisieuse en vasberade infrastruktuur en ekonomiese herstelplan vir homself ontwikkel.
Tydens ’n inligtingsessie by die EuroTier 2022 suiwel-, vark- en pluimveetegnologie-uitstalling wat onlangs in Hannover, Duitsland, gehou is, het mnr. Andrii Pastoesjenko namens die Oekraïense landbou gesê dat groot dele van boerderygebiede wat deur Russiese magte sedert die inval vanaf 24 Februarie 2022 beset is, heeltemal vernietig agter gelaat is. Dié melkboer in Oekraïne se Kherson-streek het verduidelik dat sommige van hierdie gebiede weer deur Oekraïense magte oorgeneem is, terwyl ander nog in Russiese hande bly.
Me. Hanna Lawrenijoek, direkteur-generaal van Oekraïne se melkprodusente-vereniging, het ’n lang lys aangehaal van regstreekse en onregstreekse wesenlik ongunstige en ekonomiese impakte op kort en lang termyn van die oorlog op Oekraïne se landbou, asook op voedselsekerheid in Oekraïne en internasionaal. Regstreekse verliese aan bates in die Oekraïense landbou alleen beloop minstens VSA $6,6 miljard (ongeveer R112 miljard).