Suid-Afrika se handel met Rusland en Oekraïne beloop gesamentlik maar 1% van die waarde van die land se totale internasionale handel. Die konflik tussen dié twee lande kan egter op verskeie maniere verreikende gevolge vir Suid-Afrika inhou, het mnr. Donald MacKay, direkteur van XA International Trade Advisors, op ’n webinaar gesê wat XA saam met die Tutwa Consulting Group aangebied het.
Veral Suid-Afrika se polities neutrale standpunt kan handelsverhoudinge vertroebel met Amerika en die Europese Unie (EU), wat ’n baie groot deel van Suid-Afrika se internasionale handel verteenwoordig, meen hy.
Dr. Judy Smith-Höhn, uitvoerende direkteur van Tutwa in Suid-Afrika, het op die webinaar wat deur Access Bank geborg is, gesê die grootste uitwerking wat die konflik op Afrika gaan hê, is onsekerheid. “Dit is ’n ongeëwenaarde tyd. Dit kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie.”