
Die konflik tussen Rusland en Oekraïne sal ’n ernstige uitwerking op voedselsekerheid in Suid-Afrika hê en ’n wesenlike risiko vir dele van die landbousektor inhou, sê mnr. Kulani Siweya, landbou-ekonoom by Agri SA. Daarom meen hy die regering moet dringend stappe doen om die brandstofheffing op te skort ten einde verligting te bring vir boere, veral kleinboere.
Dit kan volgens hom ook help om voedselpryse vir Suid-Afrikaanse verbruikers in toom te hou.
Brent-ruoliepryse het bykans verdriedubbel in Februarie en Maart vanjaar. Weens onlangse, asook verwagte verhogings van brandstofpryse sal die vervoerkoste om voedsel by Suid-Afrikaanse verbruikers te kry volgens Siweya oor die volgende paar maande aansienlik toeneem, tensy die regering stappe doen om dit te voorkom.
“Dit is waarom Agri SA ’n beroep doen op die regering om gedurende hierdie krisis brandstofheffings op te skort ten einde ’n toename in voedselpryse te vermy. Versuim om op te tree, sal bloot die kostedruk op verbruikers vererger en sodoende voedselsekerheid in Suid-Afrika in gevaar stel, veral vir die kwesbaarste gemeenskappe.
“Tesame met verbruikers, sal die opskorting van brandstofheffings beskerming bied aan kwesbare kleinskaalse boere teen toenames in insetkoste en teen die verwagte aanslag op landbou-inkomste vanaf Rusland en Oekraïne.”
HANDEL MET RUSLAND EN OEKRAïNE
Suid-Afrika se handel met Oekraïne het oor die afgelope dekade aansienlik toegeneem. Vanaf 2016 tot 2020 het Suid-Afrika se landbou-uitvoer na Oekraïne meer as verdubbel van R76,5 miljoen tot R155 miljoen. Landbou-invoer uit Oekraïne het in 2020 sowat R390 miljoen beloop.
Siweya sê landboukommoditeite is verantwoordelik vir meer as die helfte van alle Suid-Afrikaanse uitvoer na Oekraïne, meestal vrugte en neute. Die konflik sal dus waarskynlik ’n aansienlike uitwerking op die prestasie van sommige bedrywe in die eerste kwartaal van 2022 hê. Sitrusprodukte beslaan die grootste gedeelte van uitvoer na Oekraïne en is geraam op R133,7 miljoen in 2020.
Blokkering van uitvoer na Rusland sal volgens hom ook ’n nadelige impak op Suid-Afrika se beduidende handel in landbou-kommoditeite met daardie land hê. Suid-Afrika se uitvoer na Rusland beloop meer as dubbel sy landbou-invoer. Landbou-invoer het stabiel gebly op ongeveer R2 miljard van 2016 tot 2020, terwyl uitvoer vanaf R2,1 miljard in 2016 tot R4 miljard in 2020 toegeneem het.
“Die Oekraïne-Rusland-konflik hou dus beduidende gevolge in vir die prestasie van Suid-Afrika se landbousektor. Die regering moet dringend stappe doen om die vernietigende gevolge van hierdie verlore inkomste op Suid-Afrikaanse boere te versag, byvoorbeeld deur marktoegang te bewerkstellig sodat produkte wat bestem is vir Oekraïne, elders versend kan word.
“Elke dag wat die regering versuim om op te tree, hou ’n risiko in vir broodnodige werkgeleenthede in die sektor.”