
Nadat Oekraïene reeds vroeër die uitvoer van landbouprodukte soos koring, mielies en sonneblomolie weens die Russiese inval begin beperk het, het die regering die afgelope naweek ’n algehele verbod op die uitvoer van kunsmis geplaas.
Volgens die nuusdiens Reuters sluit die verbod stikstof, fosfor, kalium en ander meer komplekse kunsmis in. Die regering sê in ’n verklaring die verbod sal help om ’n balans in die plaaslike mark te behou. Tradisioneel begin Oekraïne met lente-aanplantings laat in Februarie en in Maart. Boere sal so gou as wat hulle kan in veilige gebiede met aanplantings begin.
Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het gevra daar moet soveel moontlik geplant word ondanks die Russiese inval. Oekraïne se landbou-unie het op sy beurt gesê boere sal waarskynlik aanplantings van sonneblom, raapsaad en mielies verminder en meer produkte soos bokwiet, hawer en manna plant.
Oekraïne, wat die wêreld se grootste uitvoerder van sonneblomolie is, het voor die inval voorspel dat hy hierdie seisoen 60 miljoen ton graan, wat 33 miljoen ton mielies en 23 miljoen ton koring insluit, sou kon uitvoer.
Intussen het die Amerikaanse departement van landbou sy ondersteuning vir bykomende kunsmisproduksie in Amerika bekend gemaak om boere daar te help om stygende koste weens die Russiese inval te oorkom.
Volgens die tydskrif Successful Farming word die $250 miljoen beskikbaar gestel om onafhanklike, innoverende en volhoubare kunsmisproduksie te ondersteun sodat Amerikaanse boere voorsien kan word.
Mnr. Tom Vilsack, Amerikaanse minister van landbou, sê die onlangse ontwrigtings in die voorsieningsketting weens die pandemie en Rusland se aanval op Oekraïne het gewys hoe belangrik dit is om te belê in hierdie deurslaggewende skakel in die plaaslike landbou-voorsieningskettting. “Benewens werkskepping, laer koste en meer betroubare voorrade sal ’n beleggingstoename in die plaaslike kunsmisbedryf help om klimaatsverandering teen te werk omdat skadelike uitlaatgasse wat met vervoer gepaard gaan, verminder kan word.”
Amerika is ’n groot invoerder van kunsmis en afhanklik van buitelandse voorrade. Hy is die tweede of derde grootste invoerder van elk van die drie vernaamste bestanddele vir kunsmis, terwyl lande soos China, Rusland, Kanada en Marokko die vernaamste verskaffers is. Kunsmispryse het meer as verdubbel sedert verlede jaar weens verskeie faktore wat beperkte voorrade van minerale, hoë energiekoste, ’n groot internasionale vraag en gebrekkige mededinging in die kunsmisbedryf insluit.