Hierna het die kommuniste selfs mense in hegtenis geneem wat die woord ‘hongersnood’ geuiter het. Die Tweede Wêreldoorlog, ekonomiese werklikhede en politieke korrektheid het die Kulaks se tragiese verhaal grootliks onder die mat ingevee.
Oekraïne was langer as 200 jaar onder die beheer van die imperiale regering van die Russiese tsaars. Toe die laaste tsaar se mag in 1917 deur die kommunisme verbreek is, wou dit voorkom of die langverwagte geleentheid vir onafhanklikheid uiteindelik vir die Oekraïnse bevolking aangebreek het.
Optimistiese burgers van dié land het hulself as ’n onafhanklike republiek verklaar en hul antieke hoofstad, Kiëf, as die setel van hul eie regering aangewys. Die geskiedenisboeke toon egter aan dat hul opgewondenheid nie lank geduur het nie.