
Die globale graanmark verkeer in ’n posisie van groot onsekerheid, hoë wisselvalligheid en uitsonderlike prysbewegings weens die huidige konflik tussen Rusland en Oekraïne.
Dr. Werner Rossouw van Silostrat het gesê elke vyf tot tien jaar kom voorvalle wêreldwyd voor wat ’n uitsonderlike invloed op kommoditeitspryse het. “Voorbeelde hiervan is die val van die Twin Towers in 2001, die finansiële krisis in 2008, die covid-19-pandemie en nou die Russiese konflik in Oekraïne wat die ergste invloed kan hê. Dit kan ’n langer uitwerking op ’n reeds lae oordragvoorraad-scenario hê, veral ten opsigte van mielies.”
Hy was ’n spreker op ’n Silostrat-graaninligtingsdag op Bultfontein.
Die konflik beteken dat kommoditeitspryse kan daal as ’n vredesverdrag gesluit word. “Daar is groot fondsbeleggings in die kommoditeitsmark en pryse kan onder druk kom as die fondse se posisies gelikwideer word. Hoe langer die konflik uitgerek word, hoe hoër die prysstygings.”
Die sterk styging in kommoditeitspryse sedert einde 2021 kan toegeskryf word aan die sojaboonprys wat internasionaal ondersteun is omdat die Suid-Amerikaanse oeste deur droër toestande benadeel is.
Volgens Rossouw dra die olieprys by tot die onsekerheid op die markte. Op 3 Januarie 2020 was die internasionale ruolieprys $76/vat. Op Maandag 7 Maart was die prys reeds $50/vat hoër.
Oekraïne se optimale planttyd strek van 15 April tot 5 Mei. “As boere nie betyds plant nie, plaas dit druk op die globale graanmark. Die voorraad van beskikbare kommoditeite raak kleiner, terwyl die vraag steeds hoog bly. Die groot kwessie in die kommoditeitsmark is hoe lank die oorlog gaan voortduur. Oekraïne is die grootste sonneblomproduserende land ter wêreld, die vierde grootste uitvoerder van mielies en die derde grootste uitvoerder van koring. Dit het derhalwe ’n massiewe uitwerking op die totale mandjie van kommoditeite wêreldwyd.”
Volgens Rossouw het die produsente in Oekraïne na verwagting nog nie al die beskikbare insetmiddele en voorbereidings gereed om te plant nie. “Dit is onwaarskynlik dat hulle al hul graanaanplantings betyds gaan afhandel. Die volgende vier tot ses weke gaan die belangrikste bepaler wees van hoe lank die kommoditeitspryse hoog gaan bly.”
Weens die feit dat Oekraïne nie tans mielies kan uitvoer nie, verhoog die vraag na mielies vanuit Brasilië, Argentinië, Amerika en Suid-Afrika.
Dit is egter belangrik dat plaaslike pryse op ’n stadium wegbeweeg vanaf uitvoerpariteit ten einde te voorkom dat die plaaslike voorraad onder druk kom, het Rossouw gesê.
Met verwysing na insetkoste-vlakke, het hy gesê die hoër graanpryse is gunstig vir plaaslike produsente, maar moet gesien word in die lig van moontlike skerp prysstygings ten opsigte van brandstof en kunsmis. Rusland het in 2021 die meeste kunsmis wêreldwyd uitgevoer en voortgesette konflik en sanksies kan die beskikbaarheid en prys van kunsmis nadelig raak.