Die jongste oesverwagtinge van die Oesskattingskomitee lyk tans “heel in die kol”, sê Graan SA.
Volgens die vierde oesskatting vir somergewasse is die verwagte kommersiële mielie-oes met 0,59% van 11, 121 miljoen ton tot 11, 056 miljoen ton aangepas. Dit is ‘n vermindering van 65 500 ton.
Die komitee se produksieskatting vir witmielies is 6, 359 miljoen ton. Dit is 55 900 ton minder as tydens die vorige skatting. Die produksieskatting vir geelmielies is ook afwaarts aangepas, hoewel dit net met 9 600 ton verlaag is tot 4, 696 miljoen ton.
Mnr. Jannie de Villiers, hoof-uitvoerende beampte van Graan SA, sê; “Dié skatting is redelik in die kol.” Hy sê vanuit voorlopige terugvoer wat hulle van boere ontvang, bestaan ‘n verwagting van ‘n totale mielie-oes van rondom 11 miljoen ton vir die seisoen.
Sojabone se verwagte oes
Die skatting vir die sojaboon-oes is 691 050 ton. Dít is 20 700 ton minder as die vorige skatting van 711 750 ton. De Villiers sê hulle stem ook met dié voorspelling saam. “Ons is nie verras deur die verlaging in die verwagte sojaboon-oes nie. Met die terugvoer wat ons uit die bedryf kry het die droogte verskeie sojaboon-oeste geknou.”
Die oesskatting vir sonneblomsaad is wel met 12 105 ton tot 527 110 ton, verhoog. Die vorige skatting is as 515 005 ton aangeteken. Volgens De Villiers is dié groter oes ook verwag. Hy sê vroeër die jaar het baie boere gevrees dat hulle sonneblomme weens die droë toestande nie sou oorleef nie. “Intussen lyk dit of die sonneblomsaad-oeste beter gaan wees as wat aanvanklik verwag is.”
25 Mei 2012