
Die tweede oesskatting vir somergewasse is deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) bekend gemaak. Volgens hierdie skatting word 14,3 miljoen ton mielies verwag (8,5 miljoen wit mielies en 5,8 miljoen ton geel mielies).
Verandering teenoor vorige maand se skatting: Die geskatte geplante oppervlaktes ten opsigte van wit- en geelmielies het dieselfde gebly. Die verwagte opbrengs van wit mielies het met 2,41% toegeneem, met geel mielies wat 3,65% gestyg het. Die totale mielie-oes (wit en geel saam) is met 2,91% opwaarts aangepas.
Wat was die verwagte skatting?
Die opbrengsverhoging of -verlaging van ‘n oesskatting relatief tot die vorige een is nie bepalend vir die invloed wat dit die volgende dag op pryse het nie. Prysveranderings word eerder deur rolspelers se persepsie van die grootte van sodanige verandering bepaal. As die opbrengsskatting met 2% styg, maar die mark het ‘n 5% styging verwag, kan pryse styg, al het die skatting groter geword.
Reuters het op 24 Maart 2017 ‘n meningsopname onder handelaars en markontleders gedoen oor die verwagting vir hierdie tweede oesskatting. Die gemiddelde verwagting was ‘n 3% styging in die oesgrootte. Die mielie-oesskatting was dus neutraal, wat die mark se idee vir die oesgrootte betref.
Opbrengs per hektaar
Opbrengste per hektaar word in die tabel hieronder aangedui, waar hierdie skatting met vorige rekord-opbrengste vergelyk word. Indien dit realiseer, sal dit die beste mielie-opbrengs (5,45 t/ha) nog vir Suid-Afrika wees. (Sien tabel)
Mielie-opbrengs vir sekere jare
Opp. (milj. ha) Opbrengs (t/ha) Oes (milj. ton)
2017(28 Maart) 2,6 5,45 14,3
2017(28 Feb.) 2,6 5,35 13,9
2014 2,7 5,25 14,2
1981 4,3 3,38 14,6
Wit mielies
Die totale mielie-oes word op 14,234 ton geskat; minder as 1981/’82 se rekord van 14,656 miljoen ton. Die totale produksie van wit mielies vir sekere jare kan in die Tabel gesien word. Dit is duidelik dat vanjaar se produksie van wit mielies alle vorige rekords ver oortref.
Tabel:
Witmielie-produksie vir sekere jare |
'000 TON |
2017 (28 Mar) | 8,513 |
2017 (28 Feb.) | 8,313 |
2014 | 7,710 |
1981 | 6,907 |
Sonneblomme
Die verwagte sonneblom-oes vir 2017 is van 928 620 ton tot 896 060 ton verlaag. Dit is ‘n vermindering van 3,51% in vergelyking met die vorige maand se skatting. Die oppervlakte geplant het nie verander nie, maar die opbrengs is van 1,46 tot 1,41 ton per hektaar verlaag.
Hierdie verlaging is in lyn met produsente wat reeds gestroop het se opbrengste, wat oor die algemeen heelwat minder as skattings was.
Ander gewasse
Die geplante oppervlakte en opbrengs van sojabone is met onderskeidelik 1,43% en 7,06% verhoog, met ‘n oesverwagting van meer as 1 miljoen ton. Volgens gister se skatting word ‘n gemiddelde opbrengs van 2,03 ton per hektaar vanjaar verwag.
Grondbone se oesgrootte is effens afwaarts aangepas, van 88 175 ton tot 86 600 ton.
Sorghum het ‘n 9% toename tot 153 480 ton gehad. Dro?bone se produksie is met 2,57% tot 65 275 ton verhoog.
Volgende skattings
Indien die mielie-oes in verdere skattings met meer as 2% verhoog word, sal dit 1981/’82 se 14,656 miljoen ton verbysteek. Is dit moontlik? Jonger mielie-aanplantings kry in hierdie stadium heelwat skade as gevolg van 'n gebrek aan reën. Dit kan keer dat die uiteindelike oes veel groter gaan wees, en kan selfs die huidige skatting effens laat krimp.
* Geskryf deur Johann Strauss, navorser by BVG Commodities