
Die eerste oesskatting vir somergewasse is deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) bekend gemaak. Volgens hierdie skatting word 13,9 miljoen ton mielies verwag (8,3 miljoen wit mielies en 5,6 miljoen ton geel mielies).
Hoe groot is hierdie oes in vergelyking met ander jare? In vergelyking met verlede jaar, wat ‘n droogtejaar was, gaan Suid-Afrika vanjaar 6,1 miljoen ton, of 79% meer mielies produseer. Die 8,3 miljoen ton wit mielies is 144% meer as die van die afgelope seisoen. Die ooreenstemmende geelmieliesyfer is minder dramaties, met 28% meer.
Die grootste mielie-oes in Suid-Afrika se geskiedenis was in 1981, met ‘n kommersiële oes van 14,6 miljoen ton. Die 2017-oes is volgens gister se skatting dus net 5% kleiner. Die tweede grootste mielie-opbrengs was drie jaar gelede (2014) toe 14,2 miljoen ton mielies gestroop is. Indien oesgrootte in volgende skattings met 2% of meer sou styg, sal meer mielies as in 2014 geproduseer word.
Opbrengs per hektaarOpbrengste per hektaar kan in die tabel hieronder gesien word. Die hoogste ton per hektaar ooit was in 2014, met ‘n gemiddeld van 5,25. Ná gister se skatting lyk dit asof hierdie rekord vanjaar tot 5,35 ton per hektaar kan verbeter.
'n Tabel met vanjaar se mielie-aanplantings, opgedeel per provinsie, kan hieronder gesien word. Dit is duidelik dat die Vrystaat lus was om wit mielies te plant. Die 805 000 hektaar is 152 000 hektaar meer as die provinsie se vyf jaar gemiddeld. Dit was ten koste van geel aanplantings, wat amper 100 000 hektaar minder is as die vyf jaar gemiddeld.
Die ander provinsies het, behalwe vir enkele uitsonderings ook meer wit- en minder geel mielies in vergelyking met die vyf jaar gemiddeld geplant.
Die eerste oesskatting is 'n baie goeie aanduiding dat Suid-Afrika die jaar moontlik 'n rekord-hoeveelheid mielies gaan oes. Die groot oes beteken dat ons met ‘n baie groot surplus van mielies in Suid Afrika gaan sit. Die surplus beteken dat ons nie meer mielies hoef in te voer nie en dat die prys van mielies baie laer gaan wees as in die vorige seisoen, waarin ons ‘n mielietekort beleef het. Die lae pryse plaas produsente onder geweldige druk en die prysbestuur van hulle graan gaan vanjaar ‘n kritiese rol speel in winsgewendheid.
Die eerste oesskatting is ‘n baie goeie aanduiding van wat tans in op plase gebeur, maar dit kan aangepas word soos die seisoen aangaan. Die rolspelers in die industrie gaan die weer baie fyn dophou oor die volgende paar maande. Indien die toestande gunstig bly, behoort die oes dalk nóg groter te word, waar vroeë ryp in sekere streke die grootte van die oes weer negatief beïnvloed.
* Johann Strauss is 'n navorser by BVG Securities.