
Die verwagting vir vanjaar se kommersiële mielie-oes is onveranderd op 11 056 miljoen ton gelaat in die vyfde en mees onlangse oesskatting. Die Oesskattingskomitee se produksieskatting vir wit mielies is 6 359 miljoen ton, en vir geel mielies is dit 4 696 miljoen ton.
Die oppervlakte wat met mielies beplant is, is ook onveranderd op 2 699 miljoen ha, met ’n verwagte opbrengs van 4,10 ton per ha. Die skatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 527 110 ton. Die oppervlakteskatting vir dié gewas is 453 350 ha met ’n verwagte opbrengs van 1,16 ton per ha.
Sojabone
Die verwagte sojaboonoes het met sowat 17 500 ton tot 673 550 ton gekrimp. Die oppervlakte wat met sojabone beplant is, word op 472 000 ha geskat, met ’n verwagte produksie van 1,43 ton per ha.
Die verwagtinge vir die grondboonoes en die sorghumoes is ook verminder tot onderskeidelik 60 290 ton en 137 150 ton. Die skatting vir die droëboonoes is onveranderd op 47 695 ton gelaat.
Mnr. Louw Steytler, voorsitter van Graan SA, meen die vorige oesskatting was te optimisties. “Ons kry gemengde boodskappe van die boere af ná hul mielie-oeste van die lande af is, maar die meerderheid sê hul oeste was swakker as verlede jaar.”
Koring
Steytler meen die rëen wat die afgelope twee weke oor dele van die Vrystaat en die res van die land uitgesak het, sal nie ’n beduidende verskil maak aan boere se planne om koring te plant nie.
“Die probleem in die Oos-Vrystaat is dat daardie lande al voor die reën reeds voorberei en bewerk moes gewees het, so die reën gaan nie ’n groot verskil maak nie.”
Die organisasie het al sy kommer oor ’n moontlike klein koringoes uitgespreek. Mnr. Andries Theron, ondervoorsitter, verwag dat tot 60% van die land se verbruik ingevoer sal moet word. Steytler sê die reën ten spyt, bly die prys van produksie en dít wat ’n boer op die ou end uit koring maak, ’n reuse-faktor in boere se beplanning vir koring.