
Oesversekering is 'n belangrike instrument vir risikobestuur, en sonder risikobestuur kan boere nie produksiefinansiering kry nie, veral as hulle nie genoegsame sekuriteit, soos grond, het nie, sê mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou.
Maree het by die Farmers’ Weekly Agribusiness Africa-konferensie gepraat in 'n sessie waar Suid-Afrika se gereedheid vir 'n volgende droogte bespreek is. Die oesversekeringsprodukte wat tans in die land beskikbaar is, is uitgebreide haelversekering en multirisiko-oesversekering, maar 80% van premies kom van haelversekering, het Maree gesê.
In die laaste 11 jaar het ses jare negatiewe resultate vir die oesversekeringsbedryf opgelewer. In die 2014/’15-seisoen was die verliesverhouding 162%, en die verhouding vir 2015/’16 kan nóg groter wees.
“Suid-Afrika het 'n reuse-probleem rakende multirisiko-oesversekering. Dit raak min of meer onvolhoubaar.”
Die Regering se ondersteuning in dié verband is “nêrens te sien”, terwyl die staat in die meeste landboulande met wie Suid-Afrika meeding, versekeringspremies subsidieer.
Finansiering
Maree het verder gesê in Suid-Afrika is finansieringsdienste steeds op tradisionele produkte gegrond. “Wat sal gebeur as die betrokke kollateraal nie meer beskikbaar is nie?
“Ons moet na nie-tradisionele produkte soos waardekettingfinansiering kyk, wat baie geleenthede bied.”
Maree het gesê die landbousektor kan homself op die volgende droogte voorberei deur aandag te skenk aan sake soos droogtebestande kultivars, presisieboerdery en bewaringslandbou.
Boere moet ook diversifiseer - beide horisontaal en vertikaal, beide ín en buite Suid-Afrika, en beide ín en buite die landbousektor. “ 'n Mens kan byvoorbeeld oorweeg om in maatskappye te belê wat dienste aan die primêre landbou lewer, soos landboumaatskappye en koöperasies.”
Volgens Maree moet boere ook na spaarmoontlikhede kyk, wat byvoorbeeld selfversekering kan behels. Vennootskappe tussen die openbare en private sektor is egter ook baie belangrik. “Versekering sal doeltreffender wees as dit deel is van 'n omvattende ramp-risikobestuurstrategie.”
* Het jy ’n nuuswenk, kommentaar, ’n foto of video wat jy aan ons wil stuur? Gebruik Whatsapp om met ons te gesels by 063 720 3632.