Die internasionale olieprys is die wisselvalligste wat dit in dekades was en ekonome verwag verdere wisselvalligheid vir die res van die jaar.
Mnr. Tony Twine, ’n senior ekonoom van die Econometrix-groep, sê hy het nog nie die olieprys so wisselvallig gesien soos wat dit in Augustus vanjaar was nie.
Die prys het tydens dié maand tussen $101 en $118 per vat beweeg. “Dit het basies in drie rigtings beweeg. Dit het eers gestyg, toe ná twee weke gedaal en daarna vir nog twee weke skerp gestyg,” verduidelik Twine.
Goeie nuus vir dieselgebruikers
Die afgelope maand se bewegings het ’n styging van die brandstofprys tot gevolg gehad.
Die Departement van Energie het Vrydag (2 September 2011) aangekondig dat die prys van petrol op Woensdag (7 September 2011), met 9c per liter gaan styg. Vir boere is daar goeie nuus, want die dieselprys bly onveranderd. Paraffien sal tussen 2c en 3c per liter goedkoper wees.
Volgens Twine is dit tans menslik onmoontlik om te voorspel in watter rigting die olieprys vir die res van die jaar gaan beweeg. “Vandag (Maandag 5 September 2011) is ons weer terug by $114 per vat. Ons het nog nooit in een maand so baie op en af beweeg soos in Augustus nie – die prys het nog altyd in ’n reguit lyn beweeg.”
Twine sê die olieprys is ’n goeie aanduiding van die wisselvalligheid wat tans op wêreldmarkte bestaan. “En die tegniese ondersteuningsprysvlakke wat bestaan, is deesdae net daar om gebreek te word.”
Die natuurlike prys van olie was tydens die wisselvalligheid $100 per vat.
5 September 2011