Onluste in Iran en Sirië kan oliepryse opjaag, hoewel ‘n 1c daling in die dieselprys in Maart 2012 verwag word, sê mnr. Tony Twine, senior ekonoom by die Econometrix-groep.
Twine sê soos wat sake tans staan kan die dieselprys volgende maand met 1c per liter daal, terwyl die petrolprys met 15c per liter kan styg.
“Maar wat ek nie van hou nie, is dat die onluste in Iran en Sirië tans in die agtergrond rondskuil en die olieprys beïnvloed. Ons sien dat die prys die afgelope week met $1 per dag styg,” vertel Twine.
Hoewel Sirië nie een van die wêreld se hoofverskaffers van olie is nie, beskik dié land oor een van die grootste pyplyntoevoere, wat voorrade kan beïnvloed.
Sou dié situasie ernstiger raak, kan dit uiteindelik tot ‘n dieselprysverhoging lei.
Tweede faktor
Twine sê ‘n tweede faktor wat die olieprys tans dryf is die baie koue toestande wat tans in die noordelike halfrond voorkom.
“Dit is nie ongewoon dat diesel tans duurder is nie, omdat winterstoestande in die noordelike halfrond voorkom. Wat wel ongewoon is, is dat temperature baie ver onder vriespunt is oor groot dele van Europa.”
Twine sê dit is tans moeilik om te bepaal watter een van dié faktore die grootste invloed op die olieprys het.
14 Februarie 2012