Vier toekennings is dié jaar al aan Willow Creek-Olyflandgoed toegeken vir verskeie prestasies. Luidens ‘n verklaring het die landgoed die goue medalje vir sy Directors’s Reserve ekstra suiwer olyfolie by die SA Olive-toekennings gewen.
Die landgoed het ook ‘n onderskeiding behaal by die Italiaanse L’Orciolo d’Oro-kompetisie, en die SA Gold Pack toekenning vir innoverende verpakking ingepalm. Mnr. Andries Rabie, besturende direkteur, is ook vereer met die toekenning van Olyfpresteerder van die Jaar.
Die olies
Die Directors’ Reserve het die beoordeelaars van die SA Olive-kompetsie beïndruk weens die komplekse aromas wat dit vasvang. Dit is ‘n versnit van Coratina en Frantoio olyfkultivars, en dit het ‘n robuuste intensiteit met aromas van artisjok, tamatie en neute.
In teenstelling daarmee het die Estate Blend ekstra suiwer olyfolie wat by die L’Orciolo d’Oro kompetisie vereer is, ‘n aroma van vars gesnyde groen gras, amandels en appel. Frantoio is die dominate olyfkultivar wat vir dié olie gebruik is.
Innoverende verpakking
Die SA Gold Pack-toekening is verwerf weens die innoverende drukbottel waarin die Estate Blend nou verpak word. Die bottel staan bekend as die “Gourmet Squeeze”. Dit is ‘n 750ml bottel wat spog met ‘n baie gerieflike spuit-opening, wat die gebruiker in staat stel om die vloei van die olyfolie na wense te beheer. Die gebruiker draai die proppie af en druk die bottel liggies om die olie vry te stel.
"Ons wil hê ons kliënte moet werklik ‘n uitsonderlike ervaring hê wanneer hulle ons produkte gebruik – in terme van gehalte en uitstekende smaak, maar ook in terme van moderne doeltreffendheid,” sê Rabie. “Die Gourmet Squeeze bottel sal die lewens van sjefs, kos-kokkedore én die gewone kosliefhebber vir ewig verander.”
18 Oktober 2011