Hy het besef hy sou elke geleentheid oor sy pad met albei hande moet aangryp – hoe skraal hulle ook al mag wees. In die proses is wedersyds voordelige vennootskappe met medeboere in sy distrik aangegaan, en kon hy oor die jare ’n skaflike besigheid van niks af opbou.
As suksesvolle biokinetikus in Polokwane het mnr. Marthinus Erasmus altyd in sy hart geweet hy sou eerder wou boer. “In 1996, as 26-jarige, steek ek toe my trots in my sak en begin vir Marius Venter by Dendron boer. Twee jaar later is ek na Martiens Prinsloo by Hoopstad.
Ek het ’n klomp ekstra goed, soos saaiery, geleer wat ons nie in die Bosveld ken nie. Ook van beeste en bemarking.” Hy het altyd ’n sagte plek vir die Bosveld gehad en toe die geleentheid hom in 2001 voordoen om die Reitz-boer mnr. Pieter Slabbert se wildplaas by Alldays te gaan bestuur, het hy nie op hom laat wag nie.