
Dit is vreemd dat me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, haar voorgestelde regulasies vir landgebonde olie- en gas-eksplorasie en produksie deur hidrobreking nou bekend gemaak het, sê mnr. Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van omgewingsake. “Sy weet dat daar reeds in verskeie lande ’n verbod op hidrobreking is,” skryf De Klerk in ’n verklaring wat AfriForum saam met mnr. Jonathan Deal van Treasure the Karoo Action Group TKAG uitgereik het.
Creecy het ’n stel regulasies vir hierdie aktiwiteite ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet Nema in die Staatskoerant van 19 Julie gepubliseer. Dit word wyd beskou as ’n voorlopige goedkeuring van dié praktyke deur haar departement, iets wat volgens De Klerk totaal teenstrydig is met die rol van ’n departement wat juis veronderstel is om die omgewing in Suid-Afrika te beskerm.
Deal stem saam en sê gereelde voorvalle van lug- en waterbesoedeling wat openbare gesondheid bedreig, asook boorvoorvalle wys dat die skaal en omvang van boor- en hidrobrekingsoperasies elders in die wêreld reeds bewys dat selfs moonthede Amerika sukkel om sy greep daarop te behou.
In 2019 het Agri SA ’n hofgeding in die Noord-Gautengse hooggeregshof aanhangig gemaak om die toekenning van omgewingstoestemming en eksplorasieregte in vier provinsies te voorkom. Dit volg nadat Rhino Oil & Gas in 2018 omgewingstoestemming gekry het om op groot skaal deur lugvaart tegnieke te eksploreer vir skaliegas in die Noordwes, Vrystaat, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. In Januarie 2019 het Petroleumagentskap van Suid-Afrika vir Rhino Oil & Gas toestemming gegee om in sy gebiede in die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap eksplorasiewerk vir skaliegas te doen. In KwaZulu-Natal is hierdie toestemming dadelik deur Kwanalu in die hof betwis en kort daarna deur Agri SA en sy affiliasies in die ander provinsies.
Ná heftige teenkanting van die publiek het Rhino Oil & Gas sy 346ER aansoek om nagenoeg een miljoen hektaar vir moontlike olie- en gasvelde te verken in Februarie vanjaar teruggetrek.
Volgens Creecy het die nuwe regulasies dit ten doel om ’n duidelike riglyn van die wetsraamwerk daar te stel waarbinne beleggers in binnelandse gebiede mag werk en om mededingende watergebruikers, soos boere en munisipaliteite, te verseker dat hul kommer oor skoon en drinkbare water ’n saak van erns by die regering is.
Sinneloos en ondeurdag
Dr. Stefan Cramer, ’n afgetrede hidroloog uit Duitsland en wetenskaplike raadgewer vir die Southern African Faith Communities Environment Institute (SAFCEI), sê die regulasies slaag nie in een van hierdie doelwitte nie.
Hy sê dit spreek nie die spesifieke risiko’s wat landgebonde olie- en gas-eksplorasie en produksie vir Suid-Afrika se skaars en gevoelige grondwaterbronne inhou nie. Cramer meen die gebrek aan begrip vir en kennis van die Karoo se grondwaterstelsels lei tot gebrekkige beskerming van openbare of munisipale wateraanlegte en voeg by dat die nuwe regulasies glad nie private wateraanlegte beskerm nie.
Hy meen die nuwe regulasies hou eintlik niks nuuts in nie, maar herhaal eintlik net dele van die Nema-wetgewing. “Dit hou voor om streng te wees en om te gee, maar bied eintlik niks meer as vals hoop nie. Dit skep die indruk dat die departement streng is, maar dit is nie die geval nie,” skryf Cramer in sy kommentaar oor die regulasies en voeg by dat party van die regulasies eenvoudig snert is wat wys dat daar geen geotegniese of hidrologiese insae in die skryf daarvan was nie.
Hy waarsku ook dat baie van die regulasies teenstrydig is met mekaar en dat dit waarskynlik in die hof uitgedaag sal word.
Deal sê die TKAG en AfriForum is reeds besig om saam aan kommentaar op die voorgestelde riglyne te werk en hy doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om binne 45 dae sedert Dinsdag 19 Julie kommentaar oor die voorgestelde regulasies in te dien.
Die stryd teen skaliegas-eksplorasie en hidrobreking sleep al vir tien jaar voort en Deal meen die onus val op plaaslike gemeenskappe om saam te staan daarteen nes hulle het met die e-Toll-sage gedoen het. “Hierdie regering het bewys dat hy nie in staat is om selfs daaglikse dienste te bestuur nie, maar nou wil hulle ’n ingewikkelde en gevaarlike tegnologie wat deur winsmakers bestuur word, aanpak.”
“Die langtermyn-impak van duisende verlate putpunte met potensiële toekomstige pypomhulselmislukkings en grondwaterbesoedeling, oor só ’n uitgestrekte geografiese gebied is ’n tikkende tydbom wat die suurmyndreineringskwessie in Suid-Afrika sal verdwerg. Boonop sal die gas nie goedkoper wees as om van bronne soos Angola en Mosambiek te koop nie – dit sal meer kos, asook risiko’s inhou vir water en die landbou, terwyl die plaaslike gemeenskap met die gemors sal sit en die ministers, wat dit gefasiliteer het, aanspreeklikheid sal vryspring,” sê hy.
Die regulasies kan hier gelees word.