Nemla, die wysigingswet op Nasionale Omgewingsbestuurswette (Wet 2 van 2022), is uiteindelik ná meer as vyf jaar nadat dit aanvanklik by die nasionale vergadering ingedien is, op 24 Junie deur pres. Cyril Ramaphosa goedgekeur.
Dié wysigingswet (waarvoor die inwerkingstredingsdatum nog aangekondig sal word) bring omvangryke veranderings aan Suid-Afrika se omgewingswetgewing teweeg, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Nema), die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval (Nemwa), die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Luggehalte (Nemaqa), die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (Nemba), die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede (Nempaa) en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Geïntegreerde Seekus-bestuur (Nemicma). Dit bring ook grootskaalse veranderings aan op die omstrede “enkele omgewingstelsel” (One Environmental System) en die rolverdelings tussen die staatsdepartemente verantwoordelik vir die omgewing en vir mynbou.
Daar kan tereg gesê word dat Suid-Afrika se omgewingswetgewing sedert 24 Junie ’n wesenlike verandering ondergaan het. Die wysigingswet maak talle verbeterings en veranderings aan die enkele omgewingstelsel, veral wat die omgewingsbestuur op mynplekke betref.