
Miljoene rande is aan interaksie tussen rolspelers in die koringbedryf bestee, maar min besluite is geneem en oor sekere kwessies kon hulle nie konsensus bereik nie, het mnr. Pieter Esterhuyzen van Successions by die koringindaba op Elsenburg gesê.
Verskillende rolspelers het teruggerapporteer oor drie jaar van onderhandelinge, “baie praat, min luister en baie baklei”. Die Koringforum is na die afskaffing van die Koringraad in 1997 gestig om die rol te vervul van ’n staat wat hom toenemend aan bedryf onttrek het.
Daar was ’n gees van gesamentlike belang, dog Esterhuyzen meen daar is twyfel of die forum ’n toekoms het. “Dalk is eie belang baie belangriker as wat ons dink, veral as ons kyk hoe ons drie jaar met mekaar gepraat het en nie besluite geneem het nie.”
Kultivar-ontwikkeling
Dit het duidelik geword die bedryf benodig koringkultivars wat hoër opbrengste kan lewer. Mnre. Andries Theron van die Suid-Afrikaanse kultivar- en tegnologie-agentskap (Sacta) en Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, het benadruk opbrengsverhogings kan bereik word sonder om die gehaltebehoeftes van die meulenaars en bakkers te ignoreer.
Wat die bedryf wel reggekry het, was om ’n agentskap vir kultivar- en tegnologie-ontwikkeling (Sacta) te stig om die verbetering van koringkultivars te versnel. Eweneens is die kultivarnorme verslap omdat beskibare inligting toon dat Suid-Afrikaanse kultivars met die beste in die wêreld vergelyk en koring met laer eienskappe in elk geval meermale ingevoer word.
Esterhuyzen het ook gewaarsku boere moet hulle gereedmaak vir minder tariefbeskerming. “Alle aanduidings is dat die heffing op ingevoerde koring heelwat laer gaan wees. Ek dink ’n band van R700 tot R800 per ton. Dis bloot wat ek in die mark sien en hoor wat ander in die mark sê.”
Besluit ’n slag
Mnr. Francois Eksteen van Piketberg, een van die boere wat die indaba bygewoon het, het in vraetyd gesê daar is te veel parasiete in die koringwaardeketting wat op hulle teer.
In ’n oproep om groter sekerheid vir die bedryf, het mnr. Koos Blanckenberg van Klipheuwel by mnr. Chris Sturgess, wat die JSE verteenwoordig het, gepleit om besluite te neem oor hul voorstelle oor gewaarborgde graadsertifikate, graaddifferensiale en die R100-diskonto op ingevoerde koring.