Omnia het R2,09 in sy sak gesteek vir elke R10 wat hy vir die halfjaar geëindig op 30 September verdien het.
Die maatskappy het ook weer vir die eerste keer in jare ’n tussentydse dividend van R1 per aandeel verklaar. Die genoteerde chemiese reus beskou goeie landboukommoditeitspryse as een van die groot dryfvere vir dié stewige tussentydse resultate.
Die groep se tussentydse resultate het aangetoon dat sy omset met 16% gestyg het tot R4,952 miljard vir die halfjaar geëindig op 31 September 2011. In die vorige vergelykbare tydperk is ’n omset van R 4,268 miljard geïn.
Die maatskappy het sy bruto winsgewendheid met 19% verhoog tot R1,037 miljard (2010: R874 miljoen). Ander bedryfsinkomstes het met 60% gestyg vanaf R35 miljoen tot R56 miljoen.
Gunstige klimaat
Omnia se besigheid bestaan uit ’n landbou-, mynbou- en chemiese besigheid.
Mnr. Rod Humphris, Omnia se besturende direkteur, sê dié gunstige resultaat is gelewer as gevolg van die makro-ekonomiese klimaat wat oor die algemeen gunstig is.
“Die omgewing was veral gunstig vir ons landbou- en mynboubesighede, maar ons chemiese besigheid het ’n bietjie noustrop getrek. Beter kommoditeitspryse en ’n verhoging in vraag het die landbou- en mynboubesighede bevoordeel.”
Die sterkte van die rand het egter ’n ongunstige invloed op die besigheid se prestasie gehad. “Die rand het al drie besighede se verkoopspryse ongunstig beïnvloed,” sê Humphris.
“Die gemiddelde wisselkoers vir die tydperk was R6,98 teenoor die Amerikaanse dollar. Dit is ses persent sterker as die gemiddelde van R7,39 oor die vorige tydperk.”
23 November 2011