Die mededingingsaak teen die kunsmismaatskappye Omnia en Yara is ná sowat sewe jaar van die baan. Luidens ’n berig op Sake24.com het die Mededingingsappélhof die maatskappye se aansoek dat die kartelsaak teen hulle nie voor die Mededingingstribunaal aangehoor moet word nie, toegestaan.
Die hof het ook ’n bevel deur die tribunaal waarvolgens hy wysigings aan die verwysing van die saak goedgekeur het, ter syde gestel.
Oor die vingers getik
Die saak het in 2003 begin toe Nutri-Flo gekla het oor Sasol se misbruik van sy posisie in die mark. Die klaer het gevra dat Sasol se prysverhogings en hoë pryse verlig moes word. Dié klag het glo glad nie na Yara of Omnia verwys nie. Die klag is glo later, ná meer inligting bekom is, gewysig. Dit word egter nie toegelaat nie, ’n nuwe klag en ondersoek moet in so ’n geval onderneem word.
Mnr. Paul Coetser, hoof van die regsfirma Werksmans se mededingingsafdeling, sê dit is die derde saak waarvolgens die howe die mededingingsowerhede vermaan het om streng by die grondwetlike beginsels en reëls van die prosedurele reg te bly. Hy sê as dié owerheid nie na die vermanings luister nie, loop hy die risiko dat die skuldiges skotvry daarvan gaan afkom.
Vir meer oor dié storie, hou Landbouweekblad dop.
Bron: Sake24.com
15 Maart 2011