
Ankole- en Boranbeeste het vandag stewige pryse behaal op die Ntaba Nyoni-stoetery se veiling naby Bela-Bela in Limpopo. Pres. Cyril Ramaphosa was afwesig weens ’n ongesteldheid, wat ook die veelbesproke kabinetskommeling vertraag.
Veral die hoë pryse wat dragtige vroulike diere behaal het, het die vraag na vroulike diere beklemtoon. Die hoogste prys vir ’n Ankolekoei-en-kalf was R480 000 vir NANK 14-028 Mamia. Die gemiddelde prys vir dragtige koeie was R154 625, dragtige verse R280 000, koeie met kalf R416 000, bulle R95 000, nie-dragtige verse R330 000, kommersiële bulle R320 000, embrio’s R120 000 en semen R15 200 per strooitjie.
Die omset van die Ankole-veiling was net meer as R5 miljoen.
Die Borane se produksieveiling was ook suksesvol met die dragtige vers IYD 200010 Winnie van Iminathi Borane wat vir R850 000 aan ’n vereniging van kopers uit Uganda verkoop is.
Die gemiddelde prys vir dragtige koeie was R48 000, dragtige verse R147 692, koeie met ’n kalf R39 500, bulle R60 000, nie-dragtige verse R55 000, kommersiële bulle R44 000, drie-in-een-koeie R100 000, kommersiële koeie R26 000 en koeie met meer as een kalf R148 000.
Die omset van die Boran-veiling was ook net meer as R5 miljoen.
Al die diere wat aangebied is, is op die veiling verkoop.
Mnr. Ben Molotsi, bedryfsbestuurder van Ntaba Nyoni, het aan Landbouweekblad gesê die veiling het hulle grootste verwagtinge oortref. “Die boerdery probeer deurentyd diere van die hoogste gehalte aan ons kliënte bied, en dit is vandag weer eens bewys. Ons wil ons kliënte, borge en ondersteuners bedank wat bydra tot dié sukses.”
Daar is ook ’n transformasie-lot, bestaande uit twee standbeelde van Ankole-beeste, tydens die veiling verkoop. Molotsi sê die geld wat hierdeur gegenereer word, word aangewend om veeboere in die Badplaas-omgewing te ondersteun. “Ons bied inligtingsdae, help boere met genetika en lei hulle ook op in die verskillende aspekte van veeboerdery. Só ploeg Ntaba Nyoni ook terug in ons omgewing en help om die gemeenskappe rondom ons op te hef.”
Molotsi het ander telersgenootskappe en boerderye genooi om by die projek betrokke te raak om die impak daarvan verder te vergroot.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.