
Dié projek wat knap voor die algemene verkiesing sy verskyning gemaak het, wil teen 2019 ’n miljoen hektaar in produksie bring en daardeur 300 000 werksgeleenthede skep. Die DA het die voormalige landbouminister, me. Tina Joemat-Pettersson, daarvan beskuldig dat sy die projek blatant as platform gebruik om kiesers vir die ANC te werf. Nou het nóg omstredenheid rondom die projek uitgebreek.
In sy begrotingsrede het mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, asook vorige dokumente van die departement aangedui dat slegs R1,6 miljard oor die mediumtermyn vir die projek benodig word. Die projek het ook nie sy eie begroting nie en tans word geld van die omvattende steunprogram vir die landbou (CASP) gebruik om dit te finansier.
Op ’n vergadering van die Parlement se portefeuljekomitee van landbou, bosbou en visserye het dit egter aan die lig gekom dat vir die departement om die aantal hektare teen 2019 in bewerking te bring, R11,4 miljard oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk benodig word.
Me. Annette Steyn, DA-LP, het tydens die vergadering herhaaldelik die Minister vir ’n antwoord oor die begroting gepols. Sy het gesê die projek blyk net ’n naamsverandering van die vorige projekte soos die Zero Honger-veldtog en die nie-regeringsorganisasie (NGO) Masibambisane, te wees.
Pres. Jacob Zuma het aan die hoof van Masibambisane gestaan. Joemat-Pettersson het later die dienste van die NGO teruggetrek en kort daarna het die Fetsa Tlala-projek die lig gesien.
Steyn het gesê die Fetsa Tlala projek het nie sy eie begroting nie en daar is ook nie ’n behoorlike program daarvoor nie en ge-eis dat die departement sy beleid op voedselsekuriteit vir die komitee beskikbaar maak.
Vir die 2013/’14 geldjaar was 149 460 hektaar grond onder produksie geplaas.