
Die mense beweer hulle het geld aan die onderneming oorbetaal, maar die werk is nooit afgehandel nie en hulle kry ook nie hul geld terug nie. Mnr. Ben Underhay jr. (29), woordvoerder vir Benstaal, sê hulle het verskeie probleme ondervind, maar probeer om die agterstallige werk “binne die volgende twee maande” af te handel.
Hy sê in die eerste plek het sy pa, Ben, wat 30 jaar by die onderneming betrokke was, ernstige hartprobleme en hy en sy 21-jarige broer, bekend as Klein Ben, moes ingryp om die werk voort te sit.
“Ons het honderde duisende rande aan mediese uitgawes bestee en daarby is baie van ons werkers wat lede van die vakbond Numsa is, al geruime tyd by ’n staking betrokke. Ons werk op die oomblik net met een span wat strukture kan oprig.”
Een van die klaers, mnr. Dennis Klassen, sê hy het al in 2012 meer as R330 000 inbetaal en geen werk is gedoen nie. Hy moes glo die geld in Ben sr. se vrou se bankrekening inbetaal, vermoedelik ter wille van inkomstebelastingvoordele.
Klassen het al twee keer klagte gelê by die polisie in Heidelberg, Gauteng, waarvandaan Benstaal werk. Hy sê oor die afgelope paar jaar belowe Ben sr. al om die geld terug te betaal, maar hy het net een keer R40 000 terugbetaal.
“Ben sr. het deur sy prokureur ingestem om R400 000 in tien paaiemente van R40 000 terug te betaal, maar sedert die eerste betaling het hy elke keer lang verskonings. Die polisie het nog niks oor die klagte gedoen nie en ek het intussen uitgevind daar is ander mense wat 'n bloutjie met Benstaal geloop het.”
Me. Janine Horn sê hulle het R345 000 in kontant aan Benstaal se voorman, mnr. André Gerber, betaal. “Hulle het wel ’n staalraamwerk opgerig, maar nooit sinkplate gebring om die werk te voltooi nie. Ons moes ’n ander kontrakteur kry om die werk te voltooi.”
Sy sê hulle het die saak verlede jaar by die polisie in Marikana aangemeld. “Ons het ook ’n prokureur genader om ’n terugbetaling te eis, maar hulle reageer nie op korrespondensie van die prokureur nie. Ek weet van ander mense wat ook klagtes het.”
Die Underhays het oor jare ook onder ander besigheidsname sake gedoen. Ben jr. (sy regte name is Barend Jacobus) het ook die ondernemings Superfab en Erectors bedryf. Klein Ben (wie se regte name Arthur William is) het Zurial Investments bedryf. Dan was daar ook ’n Elizur Group en Second Hand DIY Steel & Structures wat aan die gesin se name gekoppel word.
Ben jr. sê hulle is bewus van hul agterstallige werk, maar vir eers moet hulle te midde van hoë staalpryse, mediese uitgawes en die staking net Benstaal op die been hou. “Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op my en my jong broer. Daar is 180 mense wat maandeliks salarisse moet kry. As ons net tyd gegun word, sal ons die agterstallige werk inhaal of geld terugbetaal.”