Stel ’n kommissie van ondersoek na arbeidstoestande op álle plase in die Wes-Kaap aan, vra die United South African Agricultural Association (USAAA).
Dié versoek deur die USAAA is aan mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse landbouminister, gerig na aanleiding van die kontroversiële verslag van die Human Rights Watch oor arbeidstoestande op Wes-Kaapse vrugte- en wynplase.
“Die HRW-verslag oor menseregteskendings op plase is ’n groot bekommernis vir die USAAA,” sê die vereniging in ’n persverklaring. “Ons is besorg daaroor dat sekere individue eerder die metodologie van die verslag bevraagteken as om die skuldiges te veroordeel.”
Belangrike hulpbron
Die USAAA beskou, volgens die verklaring, plaaswerkers as die ruggraat van die landboubedryf en die belangrikste hulpbron op enige plaas.
“Plaaswerkers moet met respek en eerbied behandel word. Afgetrede plaaswerkers moet met die respek wat hulle verdien behandel word en moet toegelaat word om op die plaas te bly waar hulle voorheen gewerk het,” aldus die verklaring.
Die USAAA dring daarop aan dat Van Rensburg tydig optree om te verseker dat menseregte op geen plaas in die Wes-Kaap geskend word nie.
26 September 2011