‘n Professionele veiligheids- en gesondheidsondersoek gaan vandag (9 Desember) by die Potchefstroomse Landboukollege onderneem word, sê AfriForum Jeug.
Mnr. Ian Cameron, woordvoerder, sê die ondersoek volg nadat talle studente by die kollege oor die haglike lewensomstandighede gekla het.
Verskeie studente het die kollege die afgelope jaar verlaat omdat hulle gevoel het hul veiligheid word bedreig deur diefstal en inbrake wat drasties toegeneem het.
Die toestande
Cameron sê die studente kla ook oor onhigiëniese toestande. “Studente by die kollege kla onder meer oor swamme wat in hul badkamers groei, kakkerlakke in die kamers en kombuise, gras wat maande laas gesny is en gebreekte teëls, toilette en vensters wat nie herstel word nie.”
Landbou.com het die kollege in April vanjaar besoek en foto’s geneem van vervalle geboue en onhigiëniese badkamers. Geen brandslange of brandblussers was ook in een van die koshuise te sien nie. Verskeie navrae aan die departement oor die toestand by die kollege en of daar aan gesondheidstandaarde voldoen word, het op dowe ore geval.
kyk na 'n fotogalery van die kollege se toestand.
Kollegehoof
Cameron sê hy wou mnr. Dipepeneneng Serage, hoof van die kollege, die afgelope week besoek maar hy is glo reeds met verlof. Die organisasie het reeds vroeër die jaar mnr. Boitumelo Tshwene, Noordwes se LUR vir Landbou, versoek om Serage af te dank.
“Geen student kan in dié omstandighede sy aandag op sy studies vestig nie. Die Potchefstroomse Landboukollege was altyd ? trotse instelling van uitnemendheid, maar die afgelope jaar het die kollege so agteruitgegaan dat dit slegs gered sal kan word deur van die huidige kollegehoof ontslae te raak,” aldus Cameron.
Die geskiedenis van die saak:
Geen kos by Potch Landboukollege
9 Desember 2010