Die liggingsdifferensiaal en die invloed daarvan op ondernemings en boere moet weer ondersoek word, sê die Landboubesigheidskamer (LBK).
Dr. John Purchase, die uitvoerende hoof van die LBK, sê na gelang van ’n silo se ligging, het die jongste verandering van die mieliedifferensiaal goeie en slegte gevolge vir landbou-ondernemings.
“Ek dink wel daar moet dringend gekyk word na die beginsel van ’n liggingsdiffirensiaal en die grondslag van verhandeling. En as bepaal word dat ’n liggingsdifferensiaal nodig is as ’n grondslag vir verhandeling, moet deeglik gekyk word na hoe dit saamgestel en bestuur word,” aldus Purchase.
Onderskat koste
Purchase sê die koste van vervoer word al vir ’n geruime tyd onderskat. Dit vorm deel van die probleme met die liggingsdiffirensiaal en die koste wat dit vir die bedryf beteken. Die LBK se hoofbestuur het die jongste aanpassings verlede week bespreek. Purchase sê die bestuur het besluit dat kenners vanuit die vervoerbedryf en ander belanghebbendes die bestuur op hul volgende vergadering moet toespreek.
“Ons wil oor verskillende perspektiewe ingelig word voordat ons dit weer vanuit landbou-ondernemings se oogpunt bespreek.”
Die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) het vroeër die maand aangekondig dat die differensiaal vir 183 silo’s met gemiddeld 28% verhoog is, terwyl die differensiaal vir individuele boere met tussen -19% (R-21 per ton) en 68% (R161 per ton) aangepas is.
21 April 2011