
Dis nou die tyd vir die Regering, maatskappye en verbruikers om eg Suid-Afrikaanse produkte heelhartig te ondersteun.
Dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, sê die Regering besef die ondersteuning en bevordering van plaaslike goedere en besighede kan tot grootskaalse werkskepping lei. Davies is ’n spreker by die Trots Suid-Afrikaans-konferensie wat vandeesweek by die Sandton-konferensiesentrum plaasvind.
Davies sê strategië om plaaslike vervaardiging te ondersteun met ’n hernieude poging om goedere op die plaaslike mark te bekom is onder ontwikkeling. “Die groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie het ’n direkte impak op werkskepping, wat bevorder sal word deur die keuse om plaaslike produkte te ondersteun. Deur produkte te koop wat plaaslik gekweek, produseer of vervaardig is, óf plaaslik verskafde dienste te ondersteun, word ’n bydrae gemaak tot ekonomiese groei en werkskepping,” sê Davies.
Dié beroep kom te midde van versugtings deur die hoenderbedryf dat die Departement van Handel en Nywerheid plaaslike produsente teen hoenderstorting uit ander markte moet beskerm. Davies sê oortuigende inisiatiewe is nodig om die privaatsektor te oortuig om plaaslike vervaardiging te ondersteun, aangesien groot maatskappye ’n belangrike bydrae kan maak weens groot begrotings vir die aankoop van dienste en goedere.