
Alle oë is op die Regering of hy wetgewing sal instel om plaasgrond in kleiner eenhede te verdeel, veral met sy ongewone stryd om sy doelwit vir die herverdeling van grond te bereik.
’n Kennisgewing is reeds in 1998 in die Staatskoerant geplaas oor die Regering se voorneme om die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond (Wet 70 van 1970) te herroep.
Maar die President het nooit die kennisgewing daarvoor onderteken nie, wat beteken dat die wet nooit herroep is nie.
Me. Annelize Crosby, parlementêre verteenwoordiger van Agri SA, sê die wet is nooit herroep nie omdat daar nog nie ’n manier is om landbougrond met hoë potensiaal te beskerm nie.
Hoewel die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye al jare lank werk aan wetgewing in dié verband, is niks nog by die Parlement ingedien nie. As Wet 70 van 1970 nou herroep word, is daar niks om landbougrond met hoë potensiaal – waarvan daar eintlik bitter min in die land is – te beskerm nie en kan landbougrond versnipper word, sê Crosby.
Ontwikkelaars van residensiële eiendom en nywerhede kyk met begerige oë na landbougrond in sekere gebiede. As landbougrond onderverdeel en daarop ontwikkel word, kan daardie grond waarskynlik nooit weer vir landbouproduksie gebruik word nie.
Crosby sê dit is uiters belangrik dat die wetgewing op die beskerming van landbougrond bespoedig word en dat Wet 70 van 1970 nié herroep word voordat die beskermende wet gepromulgeer is nie.
Groot kommer oor die herverdeling van landbougrond het weer begin opvlam toe mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, ’n beleidsvoorstel die lig laat sien het wat voorstel dat plaaseienaars 50% van hul plase aan hul plaaswerkers moet gee.
Talle mense in die ANC krap kop oor waar Nkwinti aan die “Finale beleidsvoorstelle oor die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk” kom. Nkwinti het gesê die voorstel is gebaseer op die ANC se resolusies oor die kommunale grondbesit wat hy in 2012 op sy beleidskongres in Mangaung geneem het.
Mnr. Butch van Blerk, ’n Kaapstadse prokureur wat die ontwikkelinge met dié wetgewing volg, meen egter dat daar nie rede tot kommer is nie. Hy sê die wet van 1970 word nog streng en meedoënloos toegepas en geen permit vir onderverdeling word toegestaan tensy baie goeie redes aangevoer word nie. ’n Goeie rede sluit in dat “die restant wat oorbly ’n ekonomiese landbou-eenheid moet wees asook die stuk wat afgesny word”.
Die toestaan van onderverdeling is só streng dat selfs mnr. Tokyo Sexwale, voormalige Minister van Menslike Nedersettings, nie die belanghebbende staatsdepartemente kon oortuig om hom toe te laat om ’n stuk van Groot Constantia, wat hy wou koop, af te sny nie, sê Van Blerk.
* Vroeër die week het Lynette Francis in haar radioprogram, Praat Saam op RSG, oor dié grondvoorstel van Nkwinti gesels. ’n Gautengse prokureur wat in aktes spesialiseer, mnr. Johan Jacobs, het in die program aangedui dat Wet 70 van 1970 enige tyd geskrap kan word.