
Drie ondervoede varke is van ’n staadsbeheerde plaas in Noordwes verwyder. Beeld berig twee ander varke wat saam met hulle in 'n hok op die plaas Moria by Hartebeesfontein was, het reeds gevrek.
Volgens 'n inspekteur by die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se plaasdier-eenheid, het die een dooie vark oop wonde gehad en sy ingewande het uitgehang. "Ons vermoed die lewende varke het aan die dooies begin vreet."
Die Matlosana-munisipaliteit, wat onder finansiële administrasie is, behartig dié gemengde boerderyprojek as deel van hul plaaslike ontwikkelingsinisiatief.
Die NDBV het die oorlewende varke Woensdag (gister) verwyder en oorweeg dit om strafregtelike klagte in te dien. Mnr. Chris Hattingh, DA-leier in Noordwes, het gesê die DA gaan nou aandring op groter betrokkenheid van Noordwes se landboudepartement by landbouprojekte. "Dis duidelik dat beginnerboere meestal aan hulself oorgelaat word – sonder opleiding, ondersteuning of monitering."
Bron: Beeld.