
Die Regering moet besluit of hy die politieke wil het om moeilike besluite in die langtermyn belang van die land te neem, selfs as dit ten koste van sy algemene steun op korttermyn, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Möller het in sy voorsittersrede by die organisasie se 110de kongres buite Pretoria gesê Agri SA is saam met ’n werkgroep van BUSA met pres. Jacob Zuma in gesprek oor maatreëls wat ekonomiese groei en werkskepping kniehalter. Dit sluit struikelblokke in, soos die arbeidsbedeling, wat ongewilde besluite mag verg.
“Ons is bekommerd oor die land se arbeidsbedeling en hoe die groot aantal stakings en protesoptredes die produktiewe sektore ontwrig. Dit ondermyn vertroue en lei tot permanente werkverliese.”
Hy sê in die tweede kwartaal vanjaar het die landbousektor 73 000 werksgeleenthede verloor, vergeleke met 2013. Die strewe om ’n bykomende miljoen werksgeleenthede te skep kan nie te midde van sulke roekelose stakings en stygende arbeidskoste verwesenlik word nie.
Möller sê die landbou het ’n besondere belang by die uitkomste van die dialoog met die Regering, wat gemik is op ’n vriendeliker sake-omgewing. “Statistiek toon dat groei en ontwikkeling in die landbou oor die afgelope jaar afgeneem het te midde van redelik gunstige klimaatsomstandighede maar wisselende markomstandighede.”
Hy sê ’n sterker verbintenis tot die Nasionale Ontwikkelingsplan is ’n vertrekpunt wat vertroue kan bou. Hy het die dringende noodsaaklikheid beklemtoon om verantwoordelike benaderings tot grondhervorming uit te brei en te versnel. Die voorstelle in die NOP vorm deel daarvan.
Möller het dit as ’n waterskeidingskongres bestempel, maar beklemtoon dat daar steeds ’n positiewe gesindheid jeens die bedryf is.