
Vakbondlede
wat staak oor afleggings en ongunstiger werksomstandighede by Clover, sê hul
protes is ook gemik daarop om plaaslike boere te beskerm.
Mnr. Vuka Chonco, hoofsekretaris van die Food and Allied Workers Union (Fawu), sê as ’n groot maatskappy soos Clover fabrieke toemaak, beteken dit klein ondernemings sal ook moet sluit en plaaswerkers gaan ook hul werk verloor.
“Dit is hoekom ons eis dat die staat betrokke raak.”
Die staking deur lede van Fawu en die General Industrial Workers Union of SA (Giwusa) het op 22 November verlede jaar begin en was gister (Donderdag) nog aan die gang.
Vakbondleiers het gistermiddag by die Uniegebou ’n vergadering met die regering gehad om hul eise te herhaal. Die vakbonde het reeds vroeër ’n memorandum aan die departement van handel, nywerheid en mededinging oorhandig waarin hulle onder meer eis dat Clover genasionaliseer word.
Vakbonde vra ook verbruikers om nie Clover-produkte te koop nie. Volgens mediaberigte die afgelope week het stakende werkers Woensdagmiddag by ’n Pick n Pay in Observatory, Kaapstad, opgedaag. Hulle wou plakkers op Clover-produkte plak. Van die boodskappe op die plakkers het gelui #BoycottClover, #WorkerNeedWayBetter, #StopMilkingWorkers en #NationaliseCloverUnderWorkerControl.
Die
situasie is danksy sekuriteitslede en die polisie ontlont.
Geweld veroordeel
Clover sê in ’n verklaring hy is bewus van ontwrigtings en voorvalle by van sy handelsvennote se winkels. “Die maatskappy veroordeel alle gewelddadige optrede, intimidasie en vernietiging van eiendom wat uit sulke optrede voortspruit, ten sterkste, en sal gepaste stappe doen in reaksie op onwettige optrede.”
Clover sê hy respekteer die reg van werknemers om te staak en hy tree op volgens wetgewing. Hy bly verbind tot ’n opbouende oplossing en alle samesprekings word oorweeg binne die konteks van die onderneming se finansiële posisie en volhoubaarheid op langer termyn.
‘Staak die besuiniging’
Chonco sê die vakbond se eise handel onder meer daaroor dat werkers nie afgelê moet word nie, dat diegene wat reeds afgelê is, onvoorwaardelik weer in diens geneem moet word, dat salarisse nie met 20% verminder moet word nie, en skofte van 12 uur nie moet geld waar voertuigbestuurders alleen werk nie. Skofte moet ook nie verander word sonder die betrokkenheid van vakbonde nie.
“Ons eis die betrokkenheid van die staat om al die besuinigingsmaatreëls (by Clover) stop te sit.”
Clover het vroeër in ’n verklaring gesê hy is gedwing tot herstrukturering weens ’n moeilike handelsiklus wat al ’n paar jaar duur, die swak ekonomie wat verbruikersbesteding benadeel, en groot kostestygings.
Chonco reken ’n maatskappy wat finansiële probleme het, moet gesprek voer en alternatiewe vind om probleme op te los, pleks daarvan om maatreëls in werking te stel wat tot die onderneming se voordeel strek. Volgens hom wil Clover R300 miljoen per jaar bespaar.
Hy vra waarom die laags besoldigdes in die spervuur is, terwyl die bestuur nie hul eie salarisse met 20% verminder nie.
Volgens Chonco was dit verkeerd van die regering om toe te laat dat die Milco-konsortium, waarin “Israelse biljoenêrs” ’n groot belang het, Clover in 2019 koop.