
Ons is nou op die uitkyk vir die beste selfie terwyl jy besig is om boerekos te maak. Drie gelukkige lesers kan elk 'n Landbou Boerekos-resepteboek (Winter 2014) van ons bekroonde kosredakteur, Arina du Plessis, wen.
Die groot truuk en eerste reël is dat jy sélf die foto moet neem (niemand anders mag jou dus afneem nie) terwyl jy ’n storm loskook. As dit lyk asof iemand anders jou afgeneem het, word die foto uitgegooi. Dit moet ook nie ’n foto van ’n bord boerekos alleen wees nie, maar een waar jy jousélf met die een hand gekiek het terwyl jy byvoorbeeld langs ’n pappot by 'n kampvuur hurk, die groenboontjiebredie op die stoof roer (ons wil die gereg kan sien en amper saam proe!), of die skaapboud sny.
Tweedens moet die kos op die selfie boerekos wees, nie vinnige vis as jy saans moeg tuiskom of kits-kapokaartappels uit ’n pakkie nie. Wat val alles onder boerekos? Die kosskrywer Errieda du Toit skryf in ’n rubriek: “Boerekos word nie gou-gou tussen ’n sepie en sewe-uur se nuus gemaak nie. Boerekos vra geduld.” Dus kos soos melksnysels mét kaneel en suiker, gebakte poeding, gestoofde perskes, soetpatats, stomende pampoen of jou ouma se frikkadelle.
“In goeie boeretradisie is dit ook kos met baie name, mymer Errieda. “Huiskos, kookkos, trooskos, Ma-kos, plaaskos, sielskos, Karookos en pad-na-’n-man-se-hart-kos. Almal weet dat dit net boerekos – kookkos – is wat in ’n lou-oond wag met ’n ander bord bo-op.” En óns seg: Onthou, boerekos is bowenal eerlike kos.
Kwyl jy nou behoorlik? Laat waai dus en stuur vir ons jou selfie waar jy boerekos kook. En klits gerus ’n staaltjie oor jou boerekos by jou inskrywing.
Inskrywings word van vandag, 4 Augustus, tot 12 Augustus ingewag. Die wenners sal spoedig daarna aangekondig word.
Stuur jou inskrywing na petro.bosman@media24.com
Hieronder is Arina du Plessis, ons kosredakteur, besig om boerekos in haar kombuis te maak. (Klik net op foto om te vergroot.) Sy laat weet: "Dis koud vandag en ek is in my kombuis besig met 'n lekker boerekerrie met beesskenkels, baie murgbene en Sandveldaartappels... Kyk hoe trek die stoom!"
Dis 'n voorbeeld van hoe jou boere-selfie moet lyk. Laat waai!