
Vyftien jaar gelede was daar 60 000 kommersiële boere in die land, vandag is daar net sowat 37 000 wat vir 50 miljoen mense kos moet produseer.
Sowat 800 boere het reeds hulle landboubedrywighede na Mosambiek geskuif en skep nou daar werk.
Dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, het by die Kaapstadse Persklub gesê sonder grondsekerheid en met die dreigement dat grond genasionaliseer moet word, is die hele finansiële en banksektor in gevaar.
“Dit sal ’n groot fout wees om Artikel 25 van die Grondwet te wysig.”
Dié artikel verseker eiendomsreg. Daar word geredeneer dat dit geskrap moet word omdat dit “wit mense welgesteld” en “swart mense arm” hou. Boonop word gereeld uitlatings gemaak dat “wit mense die grond gesteel het” wat hulle besit.
“Ek stem nie hiermee saam nie. Hierdie stellings word gemaak deur mense met radikale sienings, maar die ANC-leiers wat teenwoordig is wanneer dit gemaak word, stel dit nie in perspektief nie.
Gewillige verkoper, gewillige verkoper
“Om alles te kroon, word aangekondig dat die beginsel van ’n gewillige verkoper en ’n gewillige koper geskrap gaan word, met geen sekerheid oor wat in die plek daarvan gaan kom nie.”
Mulder sê die boer hoor dat grond genasionaliseer gaan word en dat wat in Zimbabwe gebeur het, hier herhaal gaan word.
Mulder het ook daarop gewys dat baie nuwe swart boere wat grond bekom het, suksesvol is. Daar is egter ook baie wat grond bekom het en nou armer is. Die rede daarvoor is dat grond alleen nie rykdom verseker nie. “Die ANC-regering se antwoord is om grond terug te neem en dit aan nuwe swart boere uit te verhuur.”
As die boere grondeienaars is, kan hulle die grond as sekuriteit by die bank gebruik en moeite doen om die waarde van die grond te laat styg deur verbeterings aan te bring.