
Ná Suid-Afrika verlede jaar sy status as vry van bek-en-klouseer verloor het, en die land sedertdien R4 miljard per jaar aan uitvoer verloor, hoop die rooivleisbedryf dat dié status teen Mei aanstaande jaar herstel sal word.
Mnr. Lardus van Zyl, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê hulle hoop dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye die nodige verslag aan die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) gaan lewer.
Van Zyl het in sy voorsittersverslag gesê: “Ons sal sien of dit wel gelewer word.” As dit nie die geval is nie, is dit onseker of die land volgende jaar sy status kan herwin. Hy het gesê die begin van dié uitbreking was ’n onsmaaklike tyd omdat die organisasie en die staat kwaad was vir mekaar oor goed wat veronderstel was om gedoen te gewees het.
Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die Dieregesondheidsforum, het op die RPO se 24ste nasionale kongres by die Rawdons-landgoed in KwaZulu-Natal gesê die verslag moet einde vandeesmaand gelewer word.
Pryse
Intussen sê Van Zyl ’n verdere uitdaging wat die bedryf die afgelope jaar in die gesig gestaar het, was dalende vleispryse aan boere. Dié daling word onder meer toegeskryf aan die hoeveelheid vleis wat in die bedryf beskikbaar was weens droogtetoestande wat tot kuddeverkleining gelei het.
“En ewe skielik was dit die RPO se skuld. Ewe skielik dink die ouens die RPO het die mag om die pryse te bepaal. Ewe skielik dink van die boere die RPO het die mag om in ’n Pick n Pay of Woolworths in te stap en te sê verlaag jou pryse,” aldus Van Zyl.
Hy sê ondanks al die uitdagings en probleme, is hy steeds positief oor die bedryf. “Vertroue in die bedryf is steeds hoog en ek is uiters optimisties oor die vooruitsigte in die bedryf!”