
Die wetsontwerp wat reeds skerp kritiek ontlok het, veral uit die landbousektor en veral oor die definisie van onteiening en die deure wat moontlik vir onteiening sonder vergoeding oopgemaak word, is deur die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur ondersoek en bespreek. Openbare deelname is ook toegelaat en uiteindelik is ’n verslag daaroor saamgestel wat Dinsdagoggend deur die komitee goedgekeur is.
Dié verslag sluit wel kommentaar, redes en menings van minderheidsgroepe in die komitee in oor hoekom sekere klousules in die wetsontwerp deur hulle verwerp word.
Die pad vorentoe beteken die wetsontwerp én verslag sal moontlik in die komende weke in die nasionale vergadering gedebatteer word.
Van die opposisiepartye, soos die DA en ACDP, het Dinsdag tydens die komiteevergadering bevestig hoewel hulle die verslag soos dit nou aan die parlement voorgelê gaan word, aanvaar, dra die wetsontwerp nie hul goedkeuring weg nie.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die parlement moet die onteieningswetsontwerp soos dit nou saamgestel is, verwerp.
“Die huidige wetsontwerp moet verwerp word om katastrofiese gevolge vir die landbousektor en ekonomie te keer,” sê Van der Rheede.
Volgens Agri SA sal die aanvaarding soos die wet nou omskryf is, nie net nadelige gevolge vir gevestigde boere inhou nie, maar ook vir opkomende en nuwe boere wat ’n bestaan uit die landbou maak.
“As die wetsontwerp in sy huidige formaat deurgevoer word, sal die verswakking wat dit vir private eiendomsbesit beteken, uitloop op ’n uittog van kapitaal vanuit die landbousektor en die breë ekonomie. Die gevolg hiervan sal ook ’n bloei van werkverliese en beleggings veroorsaak. Gevestigde, opkomende en nuwe boere sal almal ongunstig daardeur geraak word en ons pogings om ’n welvarende en inklusiewe landelike ekonomie te vestig, ondermyn.”
Agri SA is, soos ander kenners reeds te kenne gegee het, ontevrede oor sekere van die definisies in die wetsontwerp wat as “problematies” beskryf word. “Een voorbeeld is die definisie vir onteiening wat baie eng is en onbedoelde gevolge kan hê indien dit vir grondhervorming en ander prosesse ingespan word. Die problematiese definisie kan ook bydra tot beleidsonsekerheid wat die bedryf en ekonomie sal bedreig.”
‘Geen vergoeding’ skep onsekerheid
Van der Rheede sê voorts geen (nul) vergoeding sal net bydra tot onsekerheid in die toekoms oor beleid rakende die landbousektor.
“Suid-Afrikaanse boere produseer klaar onder moeilike omstandighede. Daarom sal ’n voortgesette aanslag teen enige grondwetlike kwessie wat eiendomsregte beskerm, teen enige arbitrêre optrede deur die regering of hoof, net die klimaat van onsekerheid aanhits en só meer beleggings, werkskepping en ’n inklusiewe sektor wegkalwe.”
Van der Rheede verwys na die Jakkelsdans-uitspraak wat in Februarie in die Grondeisehof gelewer is. Daarin is bevind die staat moet aan grondeienaars die volle markwaarde van hul grond aanbied indien geen ander kwessies in die Grondwet se afdeling 25(3) van toepassing is nie. “Die uitspraak ondersteun die konsep van markverwante, regverdige en billike vergoeding. Die Grondwet maak wel voorsiening vir gevalle waar geldige omstandighede heers waar nul (geen) vergoeding regverdig en billik is en maak juis hierdie potensieel katastrofiese wetgewing oorbodig.”
Hy sê Agri SA glo in die opbou van ’n inklusiewe en vooruitstrewende landbousektor juis om voedselsekerheid vir die hele land te verseker. “Dit kan slegs reggekry word met eiendomsregte wat seker is.”
Van der Rheede sê dit is daarom kommerwekkend dat die wetsontwerp ook ’n ongunstige impak kan hê op die gedeelde nasionale verbintenis om die landbousektor meer inklusief te maak.
“Agri SA versoek die parlement om die wetsontwerp op onteiening soos dit nou daar uitsien, nie te steun nie en eerder met die private sektor saam te werk om ekonomies volhoubare en gesonde grondwetlike maniere vir die pad vorentoe te vind, gemik op grondhervorming en inklusiewe ekonomiese groei.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.