
Die nuwe wetsontwerp op onteiening wat deur die regering opgestel word, sal eiendomsreg oor die algemeen ondermyn en Suid-Afrika afhanklik van ingevoerde voedsel maak, sê mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. Dít terwyl die konflik tussen Rusland en Oekraïne die belangrikheid van voedselsekerheid beklemtoon.
Hy sê Vrystaat Landbou het tydens proses van openbare deelname oor die onteieningswetsontwerp byna 100 000 burgers se teenkanting teen die nuwe wet ingedien.
Vrystaat Landbou is veral bekommerd oor die regskoste en las op die grondeienaar om vir sy eiendom te veg, die definisies van “eiendom” en “openbare belang” (wat volgens die organisasie te wyd is), die geleentheid en verwagting wat die klousules vir geen vergoeding skep, en die mag wat staatsamptenare sal hê wat die toepassing van die wet betref.
“Vrystaat Landbou neem kennis van die parlementêre vergaderings om die onteieningswetsontwerp af te handel. Ons bly steeds van mening dat ’n onteieningswet wat in ooreenstemming is met die Grondwet van Suid Afrika, noodsaaklik is en dat die Grondwet se artikel 25 voldoende is om billike en regverdige vergoeding te bepaal.”
Die organisasie meen dat die nuwe onteieningswetsontwerp buite die raamwerk van die Grondwet val. “Ons is daarom oorgehaal om pogings te ondersteun om met die beste regslui die regte van ons lede en ondersteuners te verdedig,” sê Wilken.
“Gegewe die groeiende onsekerheid oor wêreldwye voedselsekerheid, behoort die plaaslike gronddebat daarop te konsentreer om dringend staatsgrond in die hande van die beste individuele produsente te plaas en vennootskappe in die landbouwaardeketting te vestig.
“Die tyd van ideologiese speletjies is verby. Die harde werklikheid is dat ons Suid-Afrika se mense self van voedsel gaan moet voorsien in ’n globale omgewing wat drasties meer onstabiel word.”
Volgens die nuwe wetsontwerp kan private grond of eiendom vir tot 12 maande tydelik in die openbare belang onteien word. Die departement van openbare werke en infrastruktuur sal volgens Netwerk24 volgende week Dinsdag voor die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur op LP’s se vrae oor die wetsontwerp reageer.