
Net die tyd sal leer of die Regering se plan om grond sonder vergoeding te onteien, haalbaar is, maar kenners is dit eens dat dit ’n rampspoedige uitwerking op die landbou sal hê.
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê eiendomsreg word beskerm deur Artikel 25 van die Grondwet, en die Grondwet is die hoogste gesag in die land. Geen minister of politieke party kan dit net lukraak verander of aanspraak maak op onteiening sonder vergoeding nie.
“As dit gebeur, sal die landbou-ekonomie in duie stort en sal voedselonsekerheid Suid-Afrika se voorland wees.”
'Ons het sekerheid nodig'
Van Zyl sê dié soort uitlatings is onverantwoordelik en doen niks vir beleggingsvertroue nie. Dit het die teenoorgestelde uitwerking. “Ons het sekerheid en ekonomiese groei in Suid-Afrika nodig. Daarmee kan ons werk skep.”
Hy meen die Regering se onderneming om ’n “pre-koloniale oudit” te doen, is moeilik uitvoerbaar, want groot dele van die land was onbewoon. Só ’n oudit sal geensins help met suiwer ekonomiese beginsels nie.
“Grondhervorming in Suid-Afrika was tot dusver ’n mislukking. Dit is ’n feit dat net 7% van aansoekers grond wil hê. Die ander probleem is dat grond in staatsbesit nie deur die banke gefinansier sal word nie. Banke finansier ongeveer R130 miljard se produksiekrediet teen die waarde van die grond,” sê Van Zyl.
Deur twee derdes gewysig
Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, sê uiteraard kan enige deel van die Grondwet gewysig word as twee derdes van die lede van die Nasionale Vergadering en ses van die nege afvaardigings van die Nasionale Raad van Provinsies dit steun.
Hy sê indien die Regering wel die pad van onteiening sonder vergoeding probeer volg, sal dit minstens ’n jaar duur om dit deur te voer.