‘n Opvolgdokument vir die omstrede Onteieningswetsontwerp kan moontlik in 2011 in die Parlement ter tafel gelê word.
Me. Annelize Crosby, parlementêre verteenwoordiger van Agri SA, sê sy verwag dat ‘n opvolg op die Onteieningswetsontwerp volgende jaar in die Parlement sal dien. “Die dokument sal met dieselfde deeglikheid nagegaan word as wat die geval met die vroeëre wetsontwerp was.”
Crosby het afgevaardigdes van AMT se Vooruitskouingskonferensie in Pretoria ingelig oor wat tot 2014 rakende grondhervorming in Suid-Afrika verwag kan word.
Sy meen die Regering gaan groot fokus plaas op landelike ontwikkeling en die verbetering van die lot van bewoners van landelike gebiede.
Groenskrif
“Die Groenskrif het op dié tydstip nog geen status nie. Ons weet egter na besprekings met die Regering dit gaan fokus op die besitregstelsel en die moontlike beperking van grondbesit,” verduidelik sy.
Sy sê dié beleid kan positiewe en negatiewe aspekte hê. “Dit gaan fokus op landelike gebiede en om mense se lot daar te verbeter. Wat die negatiewe aspekte aanbetref is ‘n moontlike radikale afwyking van die vryemark-benadering.”
“Voorstelle moet nog getoets word”
Volgens Crosby is daar nog baie onbeantwoorde vrae oor die Groenskrif. “Wat grondplafonne aanbetref, weet ons nie hoe hulle dit wil doen nie. Ons kon ook nog nie antwoorde kry oor die meganismes wat gebruik sou word om iemand te dwing om van van sy grond ontslae te raak, en hoe hy daarvoor vergoed gaan word, as hy te veel grond besit nie.”
Sy sê al die voorstelle van die beleid moet nog getoets word wat grondwetlikheid betref, en sy moedig rolspelers in die bedryf aan om hul menings te kenne te gee en hul ontevredenheid uit te spreek.
“Ek dink ook dis hoog tyd dat almal die belang van die landbousektor in die algemene ekonomie erken vir wat dit is. Enige iemand wat weet sal vir jou kan sê as die landbousektor skade ly, gaan al jou ander sektore daaronder ly,” verduidelik Crosby.
“Ek glo as mens positief oor die toekoms is, is daar ‘n goeie kans dat die toekoms positief gaan wees. Mense moenie hulself lam skirk vir die politiek nie, moenie in ‘n verlamming ingaan en nie ‘n positiewe toekomsvisie hê nie,” merk sy op.
21 September 2010