
Nuwe markte in Afrika is is ’n fokuspunt vandag, en geen steen sal onaangeraak
gelaat word om dit tot voordeel van die Suid-Afrikaanse landbou te ontgin nie, het mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, tydens die amptelike bekendstelling van die Agri Megaweek 2014 op Caledon gesê.
Ook mnr. Orton King, uitvoerende hoof van die Agri Megagroep, het gesê Suid-Afrika moet betyds betrokke raak by die reuse-ontwikkeling van Afrika. "Afrikalande se gemiddelde groeikoers is 4,5% jaarliks, terwyl Suid-Afrika sukkel om naby 2% groei te kom. Afrika is ’n vasteland met talle lande, kulture, gewoontes en maniere van doen. Die wêreld is geneig om na Afrika as ’n enkele land te kyk. In 2015 gaan ’n Afrika Agri-wêreldkonferensie tydens die megaweek aangebied word waaraan verskeie lande sal deelneem,” het Orton gesê.
Zokwana het ook weer benadruk dat dit net 'n voorstel was dat plaaseienaars 50% van hul grond aan hul werkers moet gee. "Die ANC het hoegenaamd nie afgewyk van die beleid van vergoeding aan grondeienaars nie."
Voedselproduksie in Suid-Afrika durf nie in gedrang kom nie, het Zokwana voorts gesê. "Boere moet trots wees om in die landbou te wees, en jong mense moet aangemoedig word om ook tot die landbou toe te tree. Boere moet kos produseer, en politici moet die speelveld vir hulle gelyk maak.”
Kommersiële boere moet hande vat met opkomende boere. “Neem vir jou ’n kleinboer aan,” was Zokwana se beroep op kommersiële boere.