Die ontsouting van seewater word oorweeg om die tekort aan water in die Noord-Kaap aan te spreek, sê die Departement van Waterwese en Omgewingsake.
Luidens ‘n berig op Fin24.com het me. Bulyewa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake, dié aankondiging tydens die Noord-Kaapse Waterindaba gemaak.
Volgens Sonjica kan die inisiatief ‘n waardevolle oplossing vir die provinsie se waterprobleme wees. Die Noord-Kaap is die droogste provinsie in die land ondanks daarvan dat die twee grootste riviere in die land daardeur vloei. Dit is ook die provinsie wat na verwagting die hardste deur klimaatverandering getref word.
Kommer oor besoedeling van die Vaalrivier
Intussen is die departement bekommerd oor die gehalte van die water in die Vaalrivier, aangesien die meeste daarvan van Gauteng afkomstig is. “Natuurlik, as ‘n mens waterbronne bespreek, kan jy nie van hoeveelhede water praat sonder om watergehalte te bespreek nie,” het die minister opgemerk.
“Die Noord-Kaap moet sy huislike sake in orde hou rakende besoedeling deur die industriële sektor, mynwese, die landbou asook die operasionele bestuur van munisipale afvalwaterbehandelingswerke,” sê Sonjica.
Gebruik reënwater
Wat die voorkoming- en aanpassingstrategieë van klimaatverandering en die watersektor aanbetref, meen Sonjica daar moet meer op die aanpassing by veranderinge gefokus word.
Sy meen ‘n goeie metode vir aanpassing is die opvang van reënwater vir veral huislike en tuingebruik.
20 September 2010