
Luidens ’n verklaring is die agentskap se hoofbedryfsbeampte, hoof- finansiële beampte en hoof van korporatiewe dienste voorlopig vanaf Vrydag 16 September geskors is terwyl die interne ondersoek afgehandel word.
“Daar moet kennis geneem word dat om iemand voorlopig te skors nie ’n aanduiding van skuld is nie. Dit word eerder gedoen om te verseker dat die ondersoek in ’n omgewing vry van inmenging en intidimasie plaasvind. Die Suid-Afrikaanse wet is baie duidelik daaroor dat iemand onskuldig is totdat hy as skuldig bewys word.”
Volgens die agentskap is die nodige maatreëls getref om stabiliteit by die agentskap te verseker en dat met sy bedrywighede voortgegaan kan word.
Luidens die verklaring het die agentskap in die verlede baie probleme en onstabiliteit op bestuursvlak gehad weens ’n aantal kwessies as gevolg van vermoedelike wanbestuur. Daar is reeds berig oor die skorsing en later afdanking van die agentskap se uitvoerende hoof vroeër vanjaar. As gevolg daarvan was die agentskap tot onlangs onder die leierskap van ’n waarnemende uitvoerende hoof.
Die agentskap se vorige direksie het ’n forensiese ondersoek oor die aantygings van wanbestuur van stapel gestuur. Die ondersoek is deur ’n private maatskappy onderneem. Die direksie het die verslag, gedateer 27 April 2022, aan die einde van sy termyn ontvang en dit in Mei aan die nuwe direksie oorhandig.
Daar is bevind dat die verslag in sommige opsigte onoortuigend was. Van die aantygings wat deur die private maatskappy ondersoek is, is terselfdertyd deur ’n spesiale ondersoekeenheid ondersoek.
Ten einde die ondersoek af te handel en die private forensiese ondersoek met die spesiale ondersoekeenheid s’n te belyn, het die agentskap se direksie hom daartoe verbind om verdere interne ondersoeke te onderneem.
Die ondersoekspan het op 6 September van die bevindinge na aanleiding van sy hersiening van die verslag aan die direksie voorgelê. Die span het gesê dat verdere ondersoeke onderneem moet word, ook om meer inligting in te samel oor nuwe kwessies wat fluitjieblasers aangemeld het.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.