
Die landbou funksioneer ondanks nuwe gonswoorde, samesmeltings en samevoegings dikwels nog volgens tradisionele strukture, en die tyd is hier dat “onverskrokke leierskap aan die dag gelê moet word om dinge te verander, aan te pas en te laat werk,” het mnr. Anton Rabe, uitvoerende hoof van Hortgro, op Agri Wes-Kaap se konferensie gesê.
“Die landbou is ’n besigheid wat moet geld maak, maar kan nie alleen alles finansier nie – rolspelers in die waardeketting moet hulle kant ook bring. Die landbou kan nie in isolasie aangaan nie, en strukture sal moet aanpas.”
Rabe het gesê die definisie van standaarde en gehalte het baie verander waarby voortdurend aangepas moet word. Ook opkomende nuwe boere moet in strukture opgeneem word, want ons kan nie meer bekostig om te dupliseer nie, het hy gesê. “Ons moet ophou met ’n ‘julle-’ en ‘ons’-benadering – ons is saam in die boot.”