
Die druk waaronder me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, verkeer is ongelooflik groot en dit is bykans ondenkbaar hoe sy onder dié moeilike omstandighede kapasiteit moet bou, sê mnr. Claude Möller, ’n onafhanklike kommunikasiestrateeg.
Möller, wat die afgelope twee weke die hoofspreker was op ’n wysreis (road show) wat deur die Oos-Kaapse RPO en NWKV in die provinsie gereël is, het gesê sy het eerder die ondersteuning nodig van ’n breë basis mense. “Luister jy na haar toesprake is dit duidelik dat sy nêrens wil gaan sónder die breë landbougemeenskap se ondersteuning nie. Maak kyk jy na die gal wat mense byvoorbeeld op blogs oor haar braak, kan jy nie anders as om haar jammer te kry vir die skaakmat-posisie waarin sy haarself bevind nie. Bring my die man wat oor Tina kla en ek wys jou die man wat ook oor die weer ongelukkig is,” het Möller aan Landbouweekblad gesê.
Hy het benadruk dat die landbou sentraal tot die toekoms van die land is. “Die sektor is groter as boere en hulle bedieningstrukture. Landbou is vandag deel van elke aspek van die lewe. Daar is niemand wie se lewe nié daardeur geraak word nie. Dit is ’n organisme in beweging, nie nét ’n organisasie nie.”
Hy meen dat landbou en politiek ook nie vanmekaar geskei behoort te word nie. Hy het die onlangse opmerking van mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, tydens die Standard Bank Imbizo, dat die beeld van die landbou van ’n sosiale sektor, na een waar dit as ekonomiese sektor gesien word, as waterskeidende denksprong by die Regering bestempel. “Trouens, dit kan met mnr. Harold MacMillan se ‘Winde van Verandering’ en PW Botha se ‘Rubicon’-toesprake vergelyk word. Dit skep die ideale geleentheid om dialoog met die regering voort te sit,” het Möller bygevoeg.