
Natuurlewe-werkers is bekommerd omdat hulle toenemend op plase in die Karoo wilde voëls soos bloukraanvoëls en valke kry wat sonder permitte aangehou word.
Volgens me. Ronelle Visagie van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe word die voëls verkeerd behandel en kan hulle vrek of gebreklik raak omdat hulle nie die regte voedingstowwe inkry nie.
“Ek het ’n jong bleeksingvalkwyfie as ’n kuiken ontvang nadat ’n boervrou van Van Wyksvlei dit gered het. Plaaskinders het dit uit die nes verwyder. Ons sal nooit weet of hulle dit wou verkoop of wou eet nie. Nadat ek haar ’n paar weke in gevangenskap geleer het om lewende prooi te vang, is sy vrygelaat. Daar word steeds kos vir haar uitgesit terwyl sy die omgewing verken en leer om akkedisse, voëls, muise en ander prooi te jag.
“In ’n ander voorval is ’n jong dwergarend naby Colesberg gevang nadat hy pas die nes verlaat het. Die mense wat hom gevang het, het sy vliegvere stomp afgesny om te keer dat hy wegvlieg. Hulle wou dit vermoedelik verkoop. Die roofvoël moet nou ’n jaar lank aangehou word totdat sy nuwe vliegvere uitgegroei het.”
Bloukraanvoëlkuikens, die land se nasionale voël, word ook gevang en in gevangenskap aangehou.
“Die afgelope weke het ons inligting gekry van twee bloukraanvoëlkuikens wat aangehou word. Sedert die ondersoek begin het, het albei die kuikens van eienaar verwissel. Mense doen die voëls ’n onreg aan om hulle van hul ouers weg te neem.
“Bloukraanvoëls wat mak grootgemaak is, het nie ’n vrees vir mense nie. As volwasse voëls is hulle baie gevaarlik, want hulle val mense aan, pik na en skop hulle. Hulle pik ook na kinders se oë. Kraanvoëls groei baie vinnig en moet daarom die regte kos kry om te verseker dat hul bene en vlerke sterk genoeg is.
“Dit is onwettig om inheemse voëls sonder permitte aan te hou. Ons versoek mense om sulke voorvalle onverwyld aan te meld sodat die voëls die regte behandeling en kos kan kry. Kraanvoëls en roofvoëls word deur wetgewing beskerm en mense mag hulle nie in gevangenskap aanhou nie.”
Om oortredings aan te meld, skakel die naaste kantoor van die departement van omgewingsake en natuurbewaring, die Groen Skerpioene of die polisie se eenheid vir bedreigde spesies.
Mnr. Zandisile Luphahla, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van landbou en omgewingsake en landelike ontwikkeling, sê geen wilde voëls mag gevang, vervoer of aangehou word sonder uitdruklike toestemming van die departement nie. Wilde voëls mag nie vrekgemaak word of hul vere geknip word om hul beweging te beperk nie.
“Rehabilitasiesentrums is die enigste instelling wat wilde voëls in aanhouding mag hê om hulle te rehabiliteer.”
Hy sê in die afgelope vier jaar is drie mense vervolg in sake wat met wilde voëls verband hou. “Een mens is vrygespreek nadat hy sy saak aan die nasionale vervolgingsgesag gestel het. Die ander twee sake is nog hangende. In een geval is ’n bloukraanvoël doodgemaak en sal die saak in die hof in Colesberg aangehoor word. In die ander saak is arende en valke vergiftig. Die saak moet nog op die hofrol geplaas word.
“Sulke bedrywighede het ’n nadelige effek op ons biodiversiteit. Gemeenskapslede word gewaarsku om dit nie te doen nie, anders sal hulle die gevolge moet dra.”