
Mnr. Jaco Mulder, VF Plus-raadslid in die Hantam-munisipaliteit, sê dié wetsontwerp is in regstreekse botsing met onder meer die landelike beveiligingstrategie soos ontwikkel deur die polisie, wat voorsiening maak vir die toepassing van ’n protokol om toegang tot plase te bestuur. Verder strook dit volgens hom ook nie met die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997) nie.
“Dit maak dit nou selfs makliker vir betreders om grond te beset en onwettige strukture op te rig wat die regte van grondeienaars ernstig kan skend,” sê hy.
“Betreders word in werklikheid nou deur die voorgestelde wysigings beskerm deur die verweer dat so iemand kan aanvoer dat hy glo hy wel by magte was om ’n eiendom te betree. Afsperrings, heinings en kennisgewing moet nou eksplisiet en sigbaar die bepalings en voorwaardes aandui waarop ’n bepaalde eiendom betree mag word.”
Die wetsontwerp bepaal verder dat ’n grondeienaar onwettige betreders moet nader en versoek om die perseel te verlaat. “Dit kan lei tot direkte konflik, veral met die hoë misdaadsyfer en huis- en plaasaanvalle waaraan Suid-Afrikaners blootgestel is. Die polisie het nie die vermoë en hulpmiddels om betyds te kan reageer in geval van onwettige betreding nie.”
Die wetsontwerp het ten doel om die Betredingswet (Wet 6 van 1959) te vervang. Mulder sê die VF Plus sal die wetsontwerp in die parlement teenstaan.
Die wetsontwerp kan hier besigtig word. Kommentaar kan daarop gelewer word deur ’n e-pos na AIBotha@justice.go.za te stuur.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.