Ongerymdhede met grond vind op ’n al hoe groter skaal in Limpopo plaas.
Benewens verdagte transaksies waarby die provinsiale regering moontlik betrokke kan wees, word munisipaliteite ook by onwettige dorpstigting op plase betrek. Dit maak boere ernstig bekommerd oor die impak daarvan op die omgewing.
Op ’n staatsplaas by Mooketsi vind plakkery byvoorbeeld met die goedkeuring van die munisipaliteit Modjadjiskloof plaas. Na bewering het die begunstigdes wat die grond gekry het, sowat 700 erwe uitgesit vir behuisingsontwikkeling.
“Dorpstigting vind onwettig plaas, geen omgewingimpakstudies is beskikbaar nie en daar is aan geen wetlike vereistes voldoen nie,” het mnr. Philé van Zyl, besturende direkteur van die boerdery ZZ2, aan Landbouweekblad gesê.
Ope dag om erwe te koop
’n Hoenderplaas tussen Louis Trichardt en Levubu is aan eisers oorgedra wat onmiddellik erwe daarop te koop aangebied het. Toe daar nie genoeg plaaslike belangstelling was nie, is blykbaar ’n “ope dag” gehou en mense met busse aangery om te gaan erwe koop.
By nie een van dié “projekte” is wettige dorpstigting betrokke nie. Daar is geen infrastruktuur nie. In sommige gevalle word water met munisipale vervoer aangery.
Daar is nie goedgekeurde rioolstelsels nie en dit is ver van dorpgebiede geleë, wat munisipale dienste duur gaan maak.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansbergse distrikslandbou-unie (SDLU), sê die onderverdeling van landbougrond en aansoek om dorpstigting moet volgens streng wetsprosesse geskied. “Dit is onaanvaarbaar dat dit sonder impakstudies toegelaat word.”
20 September 2011