Die onwettige onttrekking van water deur veral besproeiingsboere uit die Vaalrivierstelsel gaan teen Maart 2012 stopgesit word.
Dit is as die Departement van Waterwese sy sin kry. Langs die hele Vaalrivierstelsel is 8 508 besproeiingsplase, waarvan 1 200 moontlik water onwettig verbruik.
Luidens ’n verklaring van Waterwese word 244 miljoen kubieke meter water per jaar onwettig uit die rivierstelsel onttrek. Dit is meer as 15% van die totale volume water wat in die Vaalrivierstelsel verbruik word.
Onwettige verbruik
Die onwettige verbruik van water deur besproeiingsboere is uitgewys as ’n prakty wat die rivierstelsel se watervoorraad in die gedrang bring. Waterwese het aangedui dat die Regering se soeke na hernubare energiehulpbronne voordelig vir die rivierstelsel kan wees.
Dit is omdat daar ’n wateroordragskema beoog word om die westelike deel van die Krokodilrivierstelsel uit te brei. Die planne vir ’n steenkoolgedrewe kragsentrale naby Lephalale in Limpopo is uitgestel.
Dit sal die watervereistes in die Vaalrivierstelsel verlaag, maar om genoeg water tot 2050 te hê, sal ander strategieë suksesvol ingestel moet word, lui die verklaring.
26 September 2011